Lees Johannes 4: 27 – 42
“Kyk daar, kyk na die lande; hulle is ryp vir die oes” (35).
’n Skitterende jong akteur, op pad na die teater waar hy moet optree, word deur ’n eenvoudige vrou ’n traktaatjie in die hand gestop. Hy steek dit in sy sak en vergeet daarvan. Die aand in sy hotelkamer haal hy dit ingedagte te voorskyn. Hy lees dit eers vinnig en onverskillig deur. Tog boei dit hom. Toe lees hy dit sorgvuldig deur. Wat hy lees dwing hom om die volgende oggend een van die stad se leraars te gaan spreek. Dié verstaan die man se behoefte, vertel hom van God se liefde, Jesus se offer vir ons sondes aan die kruis en die lewendmakende werk van die Heilige Gees in ons hart. Die jong man vind daardie oggend die Here Jesus as Verlosser. Vyf maande later verlaat hy die teaterwêreld, skryf as student by ’n teologiese universiteit in en word predikant. Hy is later die kragtige, bekende en geseënde predikant van Tremont-Tempel in Boston VSA, dr. George Lorimer. Prediking sou hom nie bereik nie, want hy het nie kerk toe gegaan nie. Die saadjie wat die gewone vrou in sy lewe geplant het, het die pragtige boom van genade opgelewer. Ons saai die saadjies, maar God gee die ontkieming, groei en wasdom.
“Here, vandag saai ek net waar ek kan u saad.”