Lees Openbaring 7: 9 – 17
“…’n groot menigte…wat niemand kon tel nie…van elke nasie…hulle het hulle klere gewas en wit gemaak in die bloed van die Lam…” (9,14).
Die prediker, C. H. Spurgeon, vertel ’n man het diep bekommerd geraak oor sy plek in die Here se koninkryk. Die nag droom hy hy staan by die poort van die hemelstad. Hy aanskou ’n feesvierende skare wat by die hemelpoort ingaan en singende deur die hemelskare verwelkom word. ’n Engel vertel hom: “Dit is die profete.” Die man skud sy kop. “Ek tel nie onder hulle nie.” Kort daarna kom nog ’n jubelende optog verby. Hulle ontvang dieselfde verwelkoming. ”Dit is die apostels”, sê die engel. “Ek is nie een van hulle nie,” sug die man. Nie lank nie of nog skare kom singende verby. “Dit is martelare wat vir hulle geloof gefolter is.” “Ag, ek is nie werd om tussen hulle te wees nie!,” roep die man hartseer uit. Die volgende optog bestaan uit manne en vroue wat met vrug die evangelie op sendingvelde, in vreemde lande en in wêreldstede verkondig het. Die man bedek sy gesig met sy hande en kreun: “Ek hoort nie onder hulle nie!” Toe kom ’n skare verby; groter as enige van die voriges, met groter blydskap en helderder sang. Die vaandeldraer heel voor is die moordenaar vir wie Jesus aan die kruis gesê het: “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.” Agter hom loop die sondares vir wie die Here Jesus gesê het: “Jou sondes is vergewe” Dan loop Saggeus, vir wie die Heiland gesê het: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom…want die Seun van die mens het gekom om te soek te red wat verlore is.” En langs hom is die vrou van Samaria, vir wie Jesus gesê het: “…wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie.” Sy word gevolg deur die sipier van Filippi met sy hele gesin, vir wie Paulus het: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word, jy en jou huisgesin.”. ’n Ontelbare skare manne, vroue en kinders, volg vreugdevol op hulle hakke. Die man wonder watter ontvangs húlle in die hemel gaan kry. Van agter die hemelmure gaan nou ’n gejuig op wat alles oortref en meng met die optog se eie jubelende lied: “Ons redding kom van ons God wat op die troon sit en van die Lam”. Die engel sê met ‘n blye glimlag: “Dit is die groot sondaars, wat deur groot genade gered is!” “Dank, aan God!” roep die man uit. “Ek kan saam met húlle ingaan!” Op daardie oomblik word hy wakker.
“Here, vandag loof ek U. Ek kan ook só u hemel binnegaan.”