Lees 1 Tessalonisense 5:12 – 28
“Sorg dat niemand ‘n ander mens kwaad vir kwaad vergeld nie, Beywer julle liewer
altyd vir die belange van julle medegelowiges en van alle mense” (15)
In Sunday Companion vertel ’n Heilsleëroffisier van ’n ou Maorivrou wat die bynaam
Warrior Brown op haar gehaal het, omdat sy so verskriklik kon baklei as sy dronk
of kwaad was. Sy het tot bekering gekom en ’n week daarna gee sy, by ’n opelug
diens van die Heilsleër, haar getuienis. ’n Omstander wat haar humeur geken het,
het ’n sakkie aartappels by hom gehad. Op die ingewing van die oomblik, haal hy
’n groterige aartappel, uit sy sakkie en gooi haar daarmee. ’n Week tevore sou hy
na so ’n waagstuk homself moes skaars maak. Die Heilsleër-kaptein het ademloos op
haar reaksie gewag. Warrior het net gebuk, die aartappel opgetel en in haar sak
gesit. Niks is verder oor die insident gesê nie. Na verloop van tyd breek die
kerkoesfees aan. Warrior Brown se bydrae is ’n sakkie aartappels. Met blydskap
op haar ou gesig vertel sy, sy het die aartappel, waarmee sy gegooi is, in stukke
gesny en geplant. Dit is die opbrengs van die aartappel, wat sy nou as ’n
dankoffer aan die Here bring, omdat Hy haar lewe so verander en skoongemaak het.
Paulus self het hewige haat en vyandigheid in sy eie hart beleef. In sy betoog
voor koning Agrippa vertel hy hiervan: “Ek het self gedink dat ek alles in my
vermoë moes doen teen die Naam van Jesus van Nasaret. Dit het ek ook gedoen…ek het
baie van die gelowiges in tronke gestop…ek het hulle in al die sinagoges laat
straf om hulle te dwing om hulle geloof af te sweer. Ek het hulle so gehaat dat
ek hulle selfs in die buitelandse stede vervolg het” (Hand.26:10,11). Na Paulus se
ontmoeting met Christus op die Damaskuspad (Hand.9), het hyself die verandering
van hart beleef waarvan hy in 2 Kor. 5:17-21 skryf :“Ons smeek julle namens
Christus: Aanvaar die versoening met God wat Hy bewerk het! Christus was sonder
sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons
eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.”
“Here, vandag wil ek ook die offer van danksegging bring omdat U my lewe
skoongemaak en verander het.”