Lees 1 Petrus 5: 6 – 10 Ou Vertaling
“En mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid
in Christus Jesus, nadat ons ‘n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig,
versterk en grondves!” (10).
Dr. H. A. Ironside skryf oor ’n diamant wat in ’n myn in Suid-Afrika gevind is en
wat nou ’n kroondiamant is. Ek sou graag wou hê dat dit die “Ster van Suid-
Afrika” is waaroor hy skryf, want die geskiedkundige verhaal van die “Ster van
Suid-Afrika” is self so mooi, dat ek dit graag met die diamant in hierdie storie,
sou wou verbind. Die diamant waaroor dr. Ironside skryf, kom egter uit ’n myn,
terwyl die “Ster van Suid-Afrika”, ’n diamant van 83½ karaat, d.w.s. bietjie meer
as ’n ½-ons in gewig (140 karaat = 1 ons) in 1869 op die plaas Sandfontein, in
Hopetown distrik, naby die Oranjerivier deur ’n Griekwa-skaapwagtertjie opgetel
is.
Die optrede van Schalk van Niekerk, die boer aan wie die skaapwagtertjie die
groot diamant gaan gee het, was egter so mooi dat dit, dink ek, pas by die
kroondiamant se storie. Schalk het die klip dadelik as ’n diamant herken. Die
diamant was natuurlik nog dof en ongeslyp, maar dit het anders as die ander
klippe gelyk. Hy kon die skaapwagtertjie twee of drie skape gegee het, en hy sou
dood gelukkig gewees het oor die groot beloning wat hy kry. Schalk van Niekerk
het egter sy kraal leeg gemaak en vir hom 500 skape, 10 beeste en ’n perd gegee.
Self het hy die diamant later vir elf duisend pond verkoop. Die “Ster van Suid-
Afrika”, soos die Griekwatjie hom opgetel en vir Schalk gegee het, was wel reeds
baie kosbaar, maar nog nie kroongehalte nie. Dr. Ironside sê dat die diamant wat
kroon toe gegaan het, eers vrygemaak moes word van die dowwe dopsteen wat van
nature om ’n diamant is. Die diamant kom nie skitterende uit die grond nie. Die
dowwe omhulsel moet eers afgekap of weggeslyp word voor dit die glansende,
skitterende juweel is wat ons in verloofringe, borsspelde en krone ken.
Die diamant wat kroon toe sou gaan, is weke lank deur die steensnyer, dr.
Ironside noem hom die “lapidary”, bestudeer, totdat hy al die nate van die steen
geken het. Toe sit hy dit in sy kapinstrument en gee dit een hou. Die dofsteen
het afgespring en die skitterende diamant het tevoorskyn gekom. Na dit nog
geslyp en gepoleer is, is dit in die kroon gemonteer.
Die bekeerde mens is reeds vir God ’n kosbare juweel, ’n kosbare diamant. Die
mens se sondige natuur, soos die diamant se natuurlike dofrots, is om ’n mens se
kosbare siel gevou. Dit is hierdie sondige aard, die menslike dofrots, wat die
Christen van sy glans beroof. Die Here Jesus is die steensnyer, die “lapidary”,
wat elke naat van ons natuur ken. Hy weet hoe Hy die hou, deur sy Woord, of ’n
versoeking wat op ons pad kom, of ’n beproewing wat ons tref, dit wat reg sal
meewerk om die glinsterende diamant te voorskyn te bring, moet gebruik om ons
kroongehalte diamante te maak.
“Here, vandag vra ek dat U, deur u Gees se werking in my hart deur u Woord en die
bestuur van my omstandighede, om my te toets, van my ’n kroongehalte diamant vir U
sal maak.”