Lees Lukas 16: 1 – 12 (Nuwe Lewende Vertaling).
“As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. As jy selfs ’n klein bietjie oneerlik is, sal jy nie eerlik wees met groot verantwoordelikhede nie… (10).
’n Man se voertuig het hom in ’n afgeleë omgewing, baie kilometers van sy bestemming af, in die steek gelaat. Hy kon nie ‘n sein op sy selfoon kry nie. Hy sou moes stap om iewers hulp te kry. Hy volg die pad en hoop hy is op die regte koers. In die versengende hitte begin ’n dors hom pak. Na ‘n lang ruk sien hy die pad lei na ’n verwaarloosde werf toe. Die gehawende huis staan leeg. Tot sy blydskap, sien hy ’n handpomp in die hoek van die ruie agterplaas. Vol verwagting loop hy op die handpomp af en begin pomp. Daar is geen druk in die boorgat se pyp nie. Geen water kom uit nie. Toe sien hy langs die pomp, ’n bottel vol water lê. Hy gryp dit om te drink, maar sy oë val op die woorde wat op die bottel geskryf staan. “Gooi die water af in die pyp. Pomp dan.” Nou is hy in ’n gemoedstryd gewikkel. Sê nou hy gooi die kosbare water in die boorgatpyp af en daar kom tog nie water uit nie? Daar is nog iets op die bottel geskryf: “Maak die bottel weer vol water en laat dit daar vir ’n volgende verdwaalde persoon.” Nou is sy stryd groter. Hy kan dalk nog waag om die water in die pyp af te gooi, maar dan sou hy baie graag die bottel vol water wou saamneem. Hy weet nie hoe ver hy nog van die dorp af is nie. Met ’n laaste kyk na die water in die bottel, gooi hy dit in die boorgatpyp af. Hy begin weer pomp. Met die eerste paar hale is daar nie druk in die suier nie. Wanhoop wil net die oorhand kry, toe voel hy die pomp word stywer en na ’n paar oomblikke se pomp, stroom skoon, koel boorgaterwater uit die kraan uit. Hy vul die bottel en drink. Vul dit weer en drink dit weer uit. Hy drink nog ’n bietjie. Verkwik en versadig staan hy na die bottel water en kyk. Hy sou dit nou graag wou saam neem. Maar wat dan vir ’n volgende persoon wat in dieselfde omstandighede daar aankom? Hy maak seker die bottel is tot bo vol en toe sit hy dit by die voet van die pomp neer. In sy hart kom ’n vrede van weet, hy het reggedoen, aan ’n ander mens gedink en nie net sy eie beswil gesoek nie. Na nog ’n lang stap, kom hy by ’n dorpie uit. Sy lewe gered, deur iemand wat voor hom ook by daardie boorgat getrou was, om die regte ding te doen; ’n bottel water agter te laat.
By die bodem van ’n ontroue daad, lê selfsug: die doen dit vir jou eie ontwil, ongeag wat dit ander sal kos. Of dit in die verkeer op die pad is, of dit in ’n sake transaksie is, of dit in die huwelik is – waar ookal: ontrouheid het selfsug – die dink eerstens aan jouself – as basis. Getrouheid, die nakom van verantwoordelikheid, ook tot beswil van ander, is ‘n teken van karaktervastheid, wat ’n mens selfs by ’n ongelowige kan kry, maar veral is dit die vrug van die Heilige Gees se werking en invloed in die gelowige se hart: “Die vrug van die Gees …is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Gal.5:22). En die werklike toets van getrouheid is nie in groot dinge waar mens in die kalklig is nie, maar in klein dingetjies waar ander dit nie sien nie.
“Here, vandag wil ek ander se verwagting van my nakom tot húlle beswil en tot U eer.”