Ma 29 Junie: Die Metgesel

Lees Psalm 23 Ou Vertaling

 “Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my…” (4).

Eerw. H. F. Lyte het sy teologiese studies met lof geslaag. Sy eerste gemeente was ’n klein Ier­se ge­meente, wat hy genoem het, “a drea­ry Irish curacy”. Hy het met min aan­moe­diging getrou ge­arbei, tot swak ge­sond­­heid hom gedwing het om te bedank. Sy ge­sondheid het verbeter, en hy het, weer on­der moeilike omstandighede, in die be­dien­ing ge­tree in ‘n gemeente in Brixham. Hy werk vir die Here vir ’n verdere 20 jaar, in sy woorde, “u­n­der many a cloud of pastoral difficulty and dis­­cou­rage­ment”. Al was hy siek, en weer in sy eie woorde, “scarcely able to crawl”, wou hy graag een, laaste keer, die nag­maal be­­dien. Voor hy dié dag moei­saam en diep bewoë die nagmaal bedien, wil hy men­se oorreed om met erns hul eie harte te on­der­soek, of hulle regtig die ewige saligheid, deur geloof in die Here Jesus as hulle Verlosser, ontvang het. Met groot erns begin hy: “I may hope to impress it upon you, to move you to prepare for that so­­lemn hour which must come to all, by a time­­ly acquain­tance with, and appre­cia­tion of, and a dependence on the death of Christ”.

Na die diens het hy, bewus van sy nade­ren­de dood, huis toe gegaan. By die huis gee hy aan ’n geliefde familielid ’n vel papier met die woorde van ’n lied wat hy geskryf het. Daardie nag is eerw. Lyte dood. Op die vel papier was die woorde van die lied geskryf wat ons ook ken en wat ons dikwels bemoedig:

 Bly by my, Heer, terwyl die skadu’s daal
Laat tans u lig my donker pad bestraal!
Daar is geen ander hulp of troos vir my –
Hulp van die hulpelose, staan my by!

 Dáárdie onvermydelike gebeurtenis, ons sterwe, wat vir ons elkeen verbiddelik voor­lê, is vir elkeen van ons ’n ge­vreesde vooruitsig. In dáár­die oomblik gaan ons hulp nodig hê. “…ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie…Hy wat ons vir hierdie oorgang voorbe­rei…is God…ons is vol moed …” (2 Kor.5:1-10). Hy belowe om by ons te wees. Maar ons moet seker maak ons ver­houding met die Here is só, dat Hy as Helper en Trooster by ons sal wees. Het ú al vir Jesus Christus as Redder vertrou en aangeneem? Van álle dinge is dít ons belangrikste lewenssaak. Ons weet dit al­mal, ons gaan óf hemel toe, as ons Jesus Chris­tus as Saligmaker aangeneem het, óf ons gaan direk verdoemenis toe as ons versuim het om in Jesus as ons Verlosser te vertrou. Moenie die saligheid wat God vir ons, met die kosbare bloed van sy Seun gekoop het, weggooi nie. Om éwig in eensaamheid, pyn, verskrikking, el­lende te verkeer is bó ons denke aaklig. Om ewig hemel toe te gaan – wat God vir ons bedoel – is ewig heerlik. Om in ons doodsuur die teenwoordig­heid en troos van God deur sy Gees om Christus ontwil te mag hê, sal onpeilbaar kosbaar wees.

 “Here, vandag weet ek U is my Saligmaker en U sal by my wees in die donker uur van die dood.”