Lees Psalm 23 Ou Vertaling
“Al gaan ek ook in ’n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my…” (4).
Eerw. H. F. Lyte het sy teologiese studies met lof geslaag. Sy eerste gemeente was ’n klein Ierse gemeente, wat hy genoem het, “a dreary Irish curacy”. Hy het met min aanmoediging getrou gearbei, tot swak gesondheid hom gedwing het om te bedank. Sy gesondheid het verbeter, en hy het, weer onder moeilike omstandighede, in die bediening getree in ‘n gemeente in Brixham. Hy werk vir die Here vir ’n verdere 20 jaar, in sy woorde, “under many a cloud of pastoral difficulty and discouragement”. Al was hy siek, en weer in sy eie woorde, “scarcely able to crawl”, wou hy graag een, laaste keer, die nagmaal bedien. Voor hy dié dag moeisaam en diep bewoë die nagmaal bedien, wil hy mense oorreed om met erns hul eie harte te ondersoek, of hulle regtig die ewige saligheid, deur geloof in die Here Jesus as hulle Verlosser, ontvang het. Met groot erns begin hy: “I may hope to impress it upon you, to move you to prepare for that solemn hour which must come to all, by a timely acquaintance with, and appreciation of, and a dependence on the death of Christ”.
Na die diens het hy, bewus van sy naderende dood, huis toe gegaan. By die huis gee hy aan ’n geliefde familielid ’n vel papier met die woorde van ’n lied wat hy geskryf het. Daardie nag is eerw. Lyte dood. Op die vel papier was die woorde van die lied geskryf wat ons ook ken en wat ons dikwels bemoedig:
Bly by my, Heer, terwyl die skadu’s daal
Laat tans u lig my donker pad bestraal!
Daar is geen ander hulp of troos vir my –
Hulp van die hulpelose, staan my by!
Dáárdie onvermydelike gebeurtenis, ons sterwe, wat vir ons elkeen verbiddelik voorlê, is vir elkeen van ons ’n gevreesde vooruitsig. In dáárdie oomblik gaan ons hulp nodig hê. “…ons wat nog in die tentwoning is, sug en voel bedruk omdat ons nie van die aardse liggaam afstand wil doen nie…Hy wat ons vir hierdie oorgang voorberei…is God…ons is vol moed …” (2 Kor.5:1-10). Hy belowe om by ons te wees. Maar ons moet seker maak ons verhouding met die Here is só, dat Hy as Helper en Trooster by ons sal wees. Het ú al vir Jesus Christus as Redder vertrou en aangeneem? Van álle dinge is dít ons belangrikste lewenssaak. Ons weet dit almal, ons gaan óf hemel toe, as ons Jesus Christus as Saligmaker aangeneem het, óf ons gaan direk verdoemenis toe as ons versuim het om in Jesus as ons Verlosser te vertrou. Moenie die saligheid wat God vir ons, met die kosbare bloed van sy Seun gekoop het, weggooi nie. Om éwig in eensaamheid, pyn, verskrikking, ellende te verkeer is bó ons denke aaklig. Om ewig hemel toe te gaan – wat God vir ons bedoel – is ewig heerlik. Om in ons doodsuur die teenwoordigheid en troos van God deur sy Gees om Christus ontwil te mag hê, sal onpeilbaar kosbaar wees.
“Here, vandag weet ek U is my Saligmaker en U sal by my wees in die donker uur van die dood.”