Lees Matteus 25: 31 – 46
“…Ek was ’n vreemdeling en julle het my nie gehuisves nie…Vir sover julle dit aan een van hierdie geringstes nie gedoen het nie, het julle dit aan My ook nie gedoen nie” (35, 43,45)
Op ’n dag in 1775 het die bestuurder van die grootste hotel in Baltimore, Amerika, uit die hoogte huisvesting geweier, aan ’n man wat soos ’n eenvoudige boer aangetrek was. Die man se armoedige voorkoms kon die aansien van sy luukse hotel skade doen. Die man het sonder ’n woord weggegaan en elders huisvesting gekry. Die volgende dag ontdek die bestuurder van die luukse hotel, dit was Thomas Jefferson, onderspresident van Amerika, wat hy van sy deur af weggestuur het. Dadelik stuur hy ’n boodskap vir die beroemde man en vra hy moet asseblief terugkom na sy hotel toe. Jefferson het teruggeantwoord: “Ek stel u uitnoding op prys, maar as u vir ’n arm Amerikaanse boer nie plek in jou hotel het nie, het u ook nie plek vir die onderpresident van Amerika nie.”
Dit is ook Jesus se beleid: “En die Koning sal hulle antwoord: ‘Dit verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen’” (Mat.25:40). Ons gedrag jeens medegelowiges moet altyd wees met die oog gerig op die Persoon van Jesus. Hoe bedagsaam, hoe welwillend, hoe verdraagsaam, hoe opofferend, sal ons nie teenoor mekaar wees as ons onthou: “Wat ek aan ’n ander gelowige doen, doen ek aan Jesus.” Dit is maklik en aangenaam om aan ’n gesiéne gelowige eer en goedheid te betoon. Maar dan doen mens dit vir dáárdie persoon self. Wanneer ’n mens egter aan ‘n geringe persoon eer en goedheid betoon, omdat dit ’n gelowige is, doen ’n mens dit nie vir dáárdie persoon nie, maar ter wille van Jesus se Persoon.
“Here, vandag vereer ek U met my houding en gedrag aan iemand anders.”