“Mooi so, jy is ’n goeie slaaf. Omdat jy in ’n saak van min belang getrou was, kry jy nou die bestuur oor tien stede” (17)
’n Gewone Macedoniese soldaat het op ’n dag voor Alexander die Grote ’n muil, belaai met ’n vrag goud, gelei. Die muil het onder die swaar vrag moeg geword en gaan lê. Die soldaat het die kosbare vrag afgetel, dit op sy skouers gesit en dit self begin aandra. Alexander het hom dopgehou en gesien hy begin ook onder die gewig struikel. Hy was op die punt om die sak goud op die grond neer te gooi toe Alexander hom toeroep: “Manskap, moenie opgee nie. Dra dit tot by jou tent dan is dit joune. Ek gee dit vir jou.” Die skywer van die storie maak die opmerking: “Dis onnodig om te sê met watter nuwe krag en moed die man die kosbare vrag, wat hom ryk sou maak, verder gedra het.”
Die arbeid vir die Here se koninkryk is ook ’n veeleisende taak. Die vrag wat gedra moet word, word swaar. Ons Koning wat sy eie las tot die bloedige einde gedra het, bemoedig ons: “Volhard dit is tot jou eie rykdom.” God beloof om sy dienskneg wat Hom getrou dien, ryklik te beloon. Die loon oortref die arbeid. In Jesus se gelykenis het die kneg met sy een geldstuk tien ander geldstukke gewin. Maar sy beloning was tien stede! Die een kneg het niks vir sy Heer gedoen nie. Hy moes leë hande staan. Ons kan ons arbeid vir die Here nie bepaal deur dit met dié van ander te vergelyk nie, want: “Die Heer het aan (elkeen van sy knegte) volgens sy bekwaamheid gegee” (Mat.25:15). Ons weet self of ons die Here na die beste van ons vermoë dien, en of ons, wat God se belange betref, maar laat slap lê.
Ons kan die wonderlike grootte van ons beloning, omdat ons God gedien het, nie bereken nie. Redding, vergifnis, saligheid is God se gawes aan ons. Ons kan nie sondevergifnis en saligheid verdien nie. God gee dit op grond van die Here Jesus se reddingsverdienste. Die loon eendag word egter verdien. Dit is God se bonus aan sy getroue kinders. “…die vuur sal die gehalte van elkeen se werk toets. As iemand se bouwerk bly staan, sal hy beloon word; as iemand se werk verbrand sal hy nie beloon word nie, en tog sal hy self gered word, maar soos iemand wat uit die vuur geruk is” (1 Kor.3:14,15). Paulus bemoedig die gelowiges wat hartlik die Here se koninkryk bevorder: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Die swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en ewig bly” (2 Kor.4:16).
“Here, vandag werk ek vir U.”