Wo 15 Apr: Net soos ek Is

Lees Lukas 23: 33 – 43

“Verder sê hy: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom’. Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.’” (42,43)

Hierdie bekende lied is aan báie van ons be­kend: Net soos ek is, geen hulp naby; alleen u bloed gestort vir my; getrek tot u deurboorde sy – o Lam van God, ek kom! In sy boek Amazing Grace skryf Kenneth W. Osbeck: “….the simply worded text by Charlotte Elliot has in­flu­enced more people for Christ than any hymn ever written or per­haps any sermon ever preached.” As jong meisie in Brighton Enge­land, was mej. El­liot bekend as “carefree Char­lotte”, skryf Os­beck. Sy was ’n gewilde portet­skil­der en skry­wer van pittige gedigte. Op 30-jari­ge ouder­dom word sy ernstig siek en die nadraai is dat sy vir die res van haar lewe ’n invalide word. Sy word lus­teloos en depressief. Die bekende Switserse evangelis, dr. Caesar Malan, besoek haar. Haar geestelike nood tref hom. Hy roep uit: “Charlotte, kom net soos jy is – ’n sondaar – na die Lam van God toe, wat die sonde van die wêreld wegneem!” Sy reageer dadelik en plaas haar volkome ver­troue in Christus se reddende offerande vir haar. “She experienced inner peace and joy in spite of her physical afflicition until her death at the age of eigthy-two,” skryf Osbeck. Sy het 150 lie­de­re gedurende haar lewe geskryf. Sy word as een van die beste Engelse liedere­skry­wers be­skou. Oor haarself het sy gesê: “God sees, God guards, God guides me. His grace surrounds me and His voice continually bids me to be happy and holy in His service – just where I am!”

’n Lewe, net soos dit is, oorgegee aan die Here Jesus Christus, word deur Hom skoon gemaak, nuut gemaak, bruikbaar gemaak. By herhaling gee die Nuwe Testament hier­die boodskap, soos in Efesiërs 2:13, deur: “Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Chris­tus.” Dit is hierdie verlossende kruisdood van Christus, wat Charlotte Elliot, by elkeen van haar lied se 7 verse herhaal: “O Lam van God, ek kom!”

“Here, vandag kom ek net soos ek is.”