“Die Here beskerm jou…bewaar jou van alle gevare” (5)
Een oggend neem ’n Christen boer van Rhode Island twee sakke koring met sy wa na die meule toe om dit te laat maal vir huislike gebruiksmeel. Die pad voer oor ’n lae brug sonder reëlings. Hy en die perde ken die brug goed. Net toe hy in die middel van die brug is, begin die perde terug rem. Hulle dwing agteruit asof hulle gevaar voor hulle sien. Die boer gebruik al sy vaardigheid om die perde te laat voortgaan, maar hulle beur so agteruit dat die kar se een wiel van die brug afglip en die sakke koring beland in die waterstroom. Toe bedaar die perde. Gewillige hande help hom om die kar weer op die brug te kry en die twee sakke kosbare koring uit die water te haal. Teleurgesteld en ook verskrik draai hy terug huis toe. Vroeër die oggend het hy en sy vrou na gewoonte gebid en die Here se beskerming oor die dag se gebeure gevra. Nou verstaan hy nie wat gebeur het nie. Hy sny die twee nat sakke koring oop en gooi die koring op ’n sementvloer oop om weer droog te word. Toe kom hy agter hoekom die Here sy sake so teleurstellend laat verloop het. In die een sak vind hy tot sy uiterste ontsteltenis ’n paar klein stukkies glas. Die glas sou saam met die koring gemaal gewees het en die glas sou met die meel wat hulle sou gebruik, gemeng geword het. Watter ramp sou dit nie oor hulle gebring het nie!
Dr. Andrew Murray skryf oor ons ervaring van teëspoed: “Dit is God wat my op hierdie plek gebring het. Dit is sy wil, wat ek nie nou verstaan nie, dat ek my in hierdie noute moet bevind. Tweedens sal Hy my hier in sy liefde bewaar, en aan my die genade skenk om my soos sy kind te gedra. Derdens sal Hy die beproewing omskep in ’n seën en my die lesse leer wat Hy vir my wil leer, en wat ek nie op ’n ander manier sou kon leer nie. Eindelik sal Hy my dan op sy eie goeie tyd weer uit hierdie benoudheid bring – hoe en wanneer, dit weet Hy. Ek is dan hier deur God se bestelling, in sy bewaring, onder sy opleiding en so lank as wat Hy dit goed ag vir my. Ek gaan my dus nie ontstel of bekommer nie.”
“Here, vandag vertrou ek U handelwyse.”