“Daar was ’n tyd toe sommige van julle presies so was, maar nou is julle sonde afgewas en God het julle aan Homself toegewy. Julle is vrygespreekte mense op grond van wat die Here Jesus Christus en die Heilige Gees van God vir julle gedoen het” (11).
Sommige van die Isle of Wright se kuste is vol grotte. ’n Man se geraamte is in een van hierdie grotte gevind. Hy was ’n prisonier wat ontsnap het. Hy het in die grot geskuil met die hoop hy sou saam met een van die skepe wegkom. Die goeie geleentheid het nooit gekom nie. Hy kon nie waag om uit te kom nie. Sy krag het al minder geword. Sy lot was aaklig. So het hy eensaam gesterf. Hy het wel skuiling gevind, maar dit was ‘n bedrieglike en noodlottige skuiling.
Mense verlaat hulle soms ook op ’n bedrieglike en tydelike skuiling, bv. leuens of bedrog. ’n Kosbare lewe word geslyt in die gevaarlike skuiling van oneerlikheid. ’n Bedroewende skuiling is ook die oneerlike voorgee van Christenskap, om in kerklike kringe aanvaarbaar te wees, maar daar was nooit ware bekering en ontmoeting met Christus nie. Nog ’n gevaarlike wegkruipplek is nuwe godsdiensbeskouinge, omdat dit ’n mens se lewenstyl beter pas. Dit laat ruimte vir sondige praktyke. Die bedrieglikste skuilplek is onkunde, wat jou met jouself tevrede laat voel, maar jou ewige sieleheil is in gevaar. Die Nuwe Lewende Vertaling van die Bybel gebruik in 1 Korintiërs 6:9 ’n bekende woord aan mense wat tevrede voel om steeds met sondige praktyke voort te gaan: Moenie julleself bluf nie. Die sin word voorafgegaan met hierdie waarskuwing: Besef julle dan nie dat mense wat ’n sondige lewe lei, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie?
Ons het net één betroubare, blywende, ware skuiling: Die kruisdood van Jesus vir ons, en, ás ’n mens by daardie skuiling ingegaan het.
Jesus, Rots, vir my geslaan, laat my nie verlore gaan!
U was self van God verlaat, laat u lyding, sonder maat,
My tot heil wees en tot krag teen die sondeskuld en mag.
Leeg, net met my sondelas, hou ek u verdienste vas.
Ek kom vergewing vra; U het ook my skuld gedra!
U, geslaan tot heilsfontein, was my, Heiland, maak my rein!
Here, vandag kom ek in U skuil.”