“Toe ek gedink het my voete gly, het u troue liefde my regop gehou, Here. Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring” (18,19).
George Matheson was in die tweede helfte van die 19de eeu, een van Skotland se bekendste predikante. Hy het ’n vrugbare bediening bedryf met seën veral vir mense wat moeilike omstandighede beleef het. George Matheson was blind. As jongman was hy op die punt om met ’n lieflike jongmeisie te trou, toe sy dokter op ’n dag vir hom sê: “Jy beter goed na jou vriende kyk, want binnekort gaan dit vir jou te donker word om hulle te kan sien.” Dit was die dokter se manier om vir Matheson te sê hy is besig om blind te word. Hy het sy toekomstige bruid vertel wat met hom gaan gebeur. Hy het haar die geleentheid gegee om die verlowing te verbreek. Sy het dit te baat geneem. Sy toenemende blindheid en die eensaamheid wat sy teleurgestelde liefde gebring het, het sy toewyding aan die Here verdiep. Hy het toe besluit om predikant te word en ander mense wat lewenspyn moet verduur, te help. Uit eie ervaring skryf hy:
Daar kom ‘n tyd dat ons roem juis in daardie ding sal bestaan wat nou pyn veroorsaak. Vir Jakob was dit droewig toe hy, met sy kop op ‘n klip vir ‘n kussing, op die harde aarde moes slaap. Dit was vir hom ‘n tyd van eensaamheid en vrees. Dit was vir hom nag. God het ver van hom af gevoel. Tog was die Here op dáárdie plek, en Jakob het ontdek dat die nag van sy beproewing die dagbreek van sy triomf was. So het Abraham dit op die berg Moria ondervind, toe hy gereed gemaak het om Isak te offer. Dáárdie gebeurtenis het sy hartlike verhouding met God ingelui, en hy het die plek genoem Die Here sal Voorsien. Josef se roete deur die Egiptiese tronk het hom onderkoning van Egipte en redder van sy vader en broers laat word. Rut het afval koringare in Boas se land vir haar skoonma opgetel. Dit lei daartoe dat Boas met haar trou en sy in die geslagslyn van Christus se koms gekom het. Dawid se liedere het uit die nagte van sy verdrukking gekom. Johannes se verhewendste uur was op die eiland van sy verbanning, Patmos. Die uur van jou pyn sal jou kroon word. Die dag van jou bedruktheid sal jou feesdag word. Jou woestyn sal in sang uitbreek. Elkeen wat in ‘n donker tyd, ons troue God en Vader vertrou, reis ‘n dag van lig en verheerliking tegemoet
“Here, vandag is dit vir my donker en ek het nie krag om self my weg te vind nie.”