Ma 13 Apr: Los Hom Uit

Lees Matteus 5: 38 – 42

“”Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie” (39)

’n Geselskap toeriste sit in die Yellowstone Park en wag vir ’n dier, wat die skrik van die bos­se genoem word, die grysbeer, om te verskyn, vertel Dale Carnegie in sy boek How to Stop Wor­rying and Start Living (beskikbaar by boekwinkels). ’n Hoop afvalkos, uit die hotel se kombuis, is naby neer­gesit, om die beer te lok. Nie lank nie hy kom massief uit die donkerbos te voor­skyn. Die wild­be­waarder, maj. Mertindale, vertel vir die mense, die grysbeer is enige dier in die weste­li­ke half­rond se moses, behalwe miskien die buffel en Kadiakbeer. Terwyl hulle so kyk, kom nog ’n dier uit die bos uit en begin saam met die grys­beer die lekker afval­kos vreet. Die grysbeer sou geen an­der dier dit toegelaat het nie, maar nou laat hy hierdie een sy gang gaan. Dit is die stink­muis­hond. Die beer kon hom met een hou van sy geweldige voorpoot plat gevee het, maar die beer het al geleer: Lol met hom, en jy stink vir dae aanmekaar!

Daar is viervoetige muishonde, én daar is twee­voetige muishonde, sê Carnegie. Hy haal goeie raad aan uit ’n verslag van die Polisie­kan­toor in Mil­wau­kee: “As selfsugtige mense probeer voor­deel trek uit jou, skrap hulle van jou lys, maar moenie hulle probeer uitbetaal nie. Jy sal net seer­­­­der kry as hulle.” Dit is onver­stan­­­dig om eni­ge mens te probeer uitbetaal, want dan gee ons hulle mag oor ons: mag oor ons slaap, ons eetlus, ons bloed­druk, ons gesond­heid, ons geluk. Ons vyan­de sal opspring van vreugde as hulle kon weet hoe hulle ons kwel, kwes, ons laat ly. Ons haat en wraakgedag­tes maak hulle nie seer nie, maar dit omskep ons eie dae en nagte in donkerte.

Jesus se woorde: “Julle moet julle vyand lief­hê,” verkondig moderne gesondheidskun­de. Toe Jesus vir Petrus gesê het: “Jy moet 70×7 keer vergewe,” was Hy besig om ons te vertel hoe om hoë bloed­druk, hartkwaal, maag­swere en baie an­der kwale te vermy. Hy het ook raad gegee hoe om ons voor­koms te verbeter. `n Mens se met ge­sig kan ver­rimpel en verhard raak deur haat en mis­maak word deur wrok. Niks kan gelaat­skoon­heid bewerk soos vergewensgesind­heid, teer­heid en liefde nie! Laat ons onsself so liefhê dat ons nie sal toelaat dat an­der, met hulle slegte gesindheid, óns lewe bederf nie. Con­­fusius het gesê: Om ver­ont­reg en beroof te word, is niks, tensy jy aanhou om dit te onthou.

Ongelukkig is haat en ergerlikheid sterker as onsself. ’n Slegte gesindheid is soos ‘n lokomotief wat die trein sleep. Al weet ons verstand ons moe­nie haat, gebelgd voel of ’n wrok koester nie, die sondige hart is sterker as verstandige denke. Ons het hier Iemand groter nodig. Ons het Jesus self nodig, om deur sy Gees in ons hart sy liefde te gee en te laat groei. Só sal ons ons Hemelse Vader met ons lewensgedrag verheerlik.

“Here, vandag wil ek met u liefde ander liefhê.”