Di 28 Apr: So 'n Broer

Lees Lukas 6: 37 – 42

”Gee, en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee. Met die maat waarmee jule meet, sal ook vir julle gemeet word” (38).

’n Sakeman in San Antonio, Texas, kom by sy nuwe motor. ’n Straatseuntjie staan dit en bewon­der. Hy vertel die storie self so:

Toe ek die sleutel in die motordeur steek, vra die seuntjie: “Is dit Meneer se motor?” “Dis myne, ja.” “Hoeveel het hy gekos, Meneer?” “Ou seun, ek weet nie.” Hy kyk ondersoekend na my: “Meneer, lyk nie na die soort wat ’n motor sal steel nie, maar waar het Meneer dan die motor gekry?” “My broer het dit vir my gegee.” ’n Verlangende uitdrukking kom in die seun se oë: “Ek – ek wens…” Ek verwag hy gaan sê: “Ek wens ek het so ’n broer gehad,” maar hy eindig sy sin anders as wat ek verwag het, en dit raak my diep in my hart: “Ek wens ek kon so ’n broer wees.” Dadelik wil ek hom plesier. “Kom, klim in, dan voel jy hoe ry hy.” “Ek sal Meneer se kar net vuil smeer,” keer hy. Ek dink by myself: jou klere mag vuil wees, maar jou hart is spierwit. Ek dring by hom aan en hy klim gretig voor by my in. “Sal Meneer voor my huis stilhou, asseblief,” vra hy dringend. Ek hou voor ’n trapgang in ’n agter­straat­jie stil. Soos ’n klipspringer is hy uit die motor uit en kom na ’n rukkie stadig terug met ’n kleiner seun­tjie in sy arms. Die seuntjie is inmekaar getrek as gevolg van polio. Saggies sit hy die seuntjie op die onderste trap by die sypaadjie neer. “Daar is hy, Boetie. Sy broer het dit vir hom gekoop. As ek eendag groot is, gaan ek vir jou net so ’n kar koop, dan kan jyself na al die winkelvensters gaan kyk.”

Met ’n knop in my keel sê ek: “Kom julle twee. Jou Boetie gaan sommer vandag die win­kel­vensters sien.” Ek help om die kreupel seuntjie voor by my en die ander een in te tel. Ek ry na die grootste win­kelsen­trum toe in die stad. “Kom ons gaan kyk,” sê ek terwyl ek die kreu­pel oudjie in my arms dra. “Soek uit wat julle wil hê.” Hulle het ruim van my aanbod gebruikgemaak, en die volgende paar uur was die gelukkigste tyd wat ek ooit in my lewe ervaar het. Die loon van aan ander te gee, is nie altyd ma­te­riële loon nie, maar die beter loon van ’n ver­ruim­de en geluk­kige hart. “Daar is mense wat vrylik uitdeel en tog steeds meer het, daar is ander wat suinig is en tog arm word. Wie ’n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is” (Spr.11:24,25)

“Here, vandag wil ek aan ander gee.”