Di 7 Apr: Na die Kruisiging

Lees Markus 15:42-47

“Dit was Vrydag, dit is die dag voor die sabbatdag, en dit was al die middag laat…hy het die offisier laat roep en hom gevra of Jesus lankal gesterwe het…hy het die lyk vir Josef gegee” (42-45).

Walter Baxendale vertel in sy boek Dictio­nary of Illustrations van ’n skildery deur ’n groot kunstenaar, van ’n besondere toneel van Jesus se kruisiging. Die skildery toon die plek van die kruisiging na alles verby was. Die ska­re is terug huis toe en het hulle ge­wone lewe gaan hervat, die aardbewing is stil, die son skyn weer, die soldate en Jesus se vriende, al­mal, is weg. Die kruis lê op die grond en rondom is baie spore. ’n Klompie kinders is op die toneel. Hulle het kom kyk wat daar gebeur het. Hulle bekyk alles nuus­kierig. Party buig oor die kruis wat daar lê; an­der kyk af in die gat in die grond waar die kruis geplant was; ander bekyk die droë bloed­vlekke op die grond. Een van die kinders, op die voor­grond van die skildery, met onskuld en verba­sing en skok op die ge­sig, het een van die spy­kers, vol bloed wat droog geword het, in die hand.

Die groot gebeurtenis waarvan die profete geskryf het, is verby. Jesus se liggaam lê koud en magteloos in die grafkelder. Die kinders kyk net na die tekens, die bewyse van wat gebeur het, dit wat agter gebly het.

Ons kan nie eers só na Jesus se kruisiging kyk nie. Ons het net die woorde van die profete en die getuienis van die apostels wat vir ons in die Bybel opgeskryf is. Ons het ook die Heilige Gees wat na Jesus se opstanding en hemelvaart aarde toe ge­kom het. Die Heilige Gees maak die beskrywing van die kruisdood van Jesus vir ons ’n werklikheid en bring in ons hart die besef, die begrip en ge­loof te weeg en ons weet met gerustheid en blydskap, ons skuld is betaal, ons sonde is versoen.

“Here, vandag rus ek in U kruisdood vir my.”