Vry 24 Apr: Te Duidelik

 Lees Handelinge 24: 24 -27

“Feliks (wou) meer hoor oor die geloof in Chris­tus Jesus. Paulus het met hom gepraat oor ’n lewe in gehoorsaamheid aan God, oor selfbeheersing en oor die komende oordeel. Dit het Felix bang laat word, en hy het gesê: ‘Dit is nou genoeg…as ek tyd het sal ek jou weer laat roep” (25)

Tydens ’n ryk Sjinees se besoek aan Enge­land, is ’n pragtige mikroskoop aan hom gede­mons­treer, ver­tel Roy Zuck. Dit het die Sjinees se be­lang­stel­ling dadelik geprikkel en hy het vir hom een gekoop en saamgeneem Sjina toe. Dit het hom groot ple­sier verskaf om deur die mikroskoop na verskil­len­de voor­wer­pe te kyk. Eendag bestu­deer hy ’n rys­kor­rel, wat hy uit sy middagete se bord geneem het, onder die mikroskoop. Geskok sien hy onder die mikroskoop se lens, die rys­kor­rel is vol lewen­de goedjies. Dit was deel van sy gods­dienstige geloof, dat geen lewende organis­mes geëet mag word nie. Wat moet hy nou doen? Hy is nie net baie lief vir rys nie, maar dit is deel van sy daaglikse stapel­voedsel. Hy sien net een uitweg: vernietig die in­strument wat die afstootlike feit aan hom uit­ge­wys het. Zuck skryf: “Similarly, many peo­ple hate the Word of God because it reveals their true condition.”

Die onbekeerlike mens wil nie hê die Woord van God moet die sondige toestand van sy hart en die verkeerdheid van sy le­wens­gedrag aan hom uit­­wys nie. Teenoor men­se en homself kan hy sy ver­­keerdheid goedpraat. Hy wil nie God se lig op sy lewe hê nie. Hy bly weg van die Bybel af, of soos die ateïste, probeer hy die egtheid van die By­bel afmaak en teëpraat. Die mens weer, wat na bekering en heiligmaking in sy lewe verlang, be­stu­­deer gretig die Bybel om meer oor sy eie lewe en meer oor God se reddingskrag uit te vind. Hy wil skoon wees. Hy wil vir God aan­vaar­baar wees. “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart…kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad” (Ps.139:23).

“Here, vandag bid ek, deurgrond my en ken my.”