“En Ek sal ook my eie nuwe Naam op hom skrywe” (13)
Die Methodist Recorder vertel hoe Rodger Rickett een aand ‘n sakkeroller op heterdaat betrap het, terwyl hy sy beursie uit sy sak steel. Die dief het homself dadelik verontskuldig deur vir Rickett te vertel hoe hy sukkel om werk te kry. Hy het tronkstraf uitgedien en nou wil niemand hom in diens neem nie. Hy en sy gesin sterf van honger. Rickett het die man stip aangekyk: “Ek gaan my naam vir jou gee. My naam is nog skoon. Neem dit, gebruik dit en hou dit skoon.” Daarmee gee hy vir hom sy eie naamkaartjie. Ricket het vir die man werk gekry. Vyftien jaar later word Rickett na die ontvangslokaal van sy firma geroep waar ‘n man, wat dieselfde naam as hy het, met hom wil praat. Rickett kyk na die man se naamkaartjie en sien die man is regtig ook Rodger Rickett. Die man is netjies aangetrek, met ‘n aangename voorkoms. Die man groet hom hartlik en sê: “Ek het jou kom vertel dat ek vandag ‘n vennoot geword het in die firma waar jy vyftien jaar gelede vir my werk gekry het. Ek het dit aan jou naam te danke. Ek het jou naam skoon gehou.”
Ons het ook ‘n nuwe naam gekry. Ons het Christus se naam gekry. Ons word Christene genoem. “In Antiogië is die gelowiges die eerste keer Christene genoem” (Hand.11:26). Die Naam van die Here Jesus Christus het vir ons ook baie deure oopgesluit. Dit het vir ons die deur hemel toe oopgesluit. Dit is in sy Naam dat ons God kan nader en kan bid. “Wat julle ook al in my Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit doen” (Joh.14:13,14). Ons het ook die groot verantwoordelikheid om hierdie Naam skoon en in eer te hou. In dáárdie tyd het mense geweet wat die naam Christen inhou. Toe Paulus hom voor Agrippa verdedig het, het Agrippa uitgeroep: “Jy dink seker jy kan my sommer gou-gou ‘n Christen maak” (Hand.26:28). Hy het geweet wat dit vir hom gaan inhou om Christen te word. Ons wat Christene is, kan die Naam en Persoon van Christus verhoog of verneder. Hoe dra ék deur my gedrag by tot die eer of die vernedering van sy Naam?
“Here, vandag wil ek u Naam skoon hou en ook verheerlik.”