“Wanneer ons getug word, lyk die tug op daardie oomblik nie na iets om oor bly te wees nie, maar om oor te huil. Later lewer dit egter vir dié wat daardeur gevorm is, ’n goeie vrug: vrede omdat hulle gehoorsaam is aan die wil van God” (11)
Die persoonlike sekretaris van ’n New Yorkse sakeman, wat sy sake met duisende dollar bedryf het, kom een oggend sy jaarlikse finansiële state aan hom voorlê, vertel King’s Business. Die sakeman het reeds vir ’n lang tyd geweet hoe die verslag gaan lyk. ”’n Swak jaar, Meneer,” sê die jongman, en in ’n poging om bemoedigend te klink, voeg hy by, “maar sake sal sekerlik binnekort verbeter.” Die sakeman kyk in stilte deur die state. Groot verliese is getabuleer. Die winste was klein. Vir hom lyk dit of bankrotskap onvermydelik gaan wees. Toe hy praat is sy stem laag, maar sterk. “Dit was vir my ’n goeie jaar, John, ten spyte van alles. Ek dink dit was die beste jaar wat ek nog gehad het. Elkeen van daardie syfers in die rooi, vertel van my ure van worsteling en gebed. Daardie ervarings het my ryk gemaak in hoop, so ryk, dat ek nie glo ek weer oor iets wanhopig sal raak nie. Die toekoms lyk vir my goed, want ek het in dié tyd geleer dat God se Woord sê: ”Hy weerhou die goeie nie van dié wat opreg wandel nie” (Ps.84:12). ”En mag ek vir u sê, Meneer,” reageer die sekretaris, “dit was u krag en kalmte onder die teëspoed, wat my begerig gemaak het om Christus ook te ken soos u Hom ken. Ek stem met u saam, Meneer, dit was ’n goeie jaar.”
Teëspoed en beproewing kan nooit aangenaam wees nie, maar dit kan heilsaam wees as dit met vertroue in God, en gedurige gebed vir die saak, aanvaar word. Vir goeie vrug word gevra dat grond omgespit word en takke gesnoei word. Die pyn en ontsteltenis van die ervaring, gaan oor in die vreugde van die vrug wat daaruit voortkom. In ons beproewing het ons gedurig die Here Jesus as ons metgesel en ondersteuner. Hy het die pad van aardse pyn, verwerping en misverstand voluit vir ons geloop, sodat Hy vir ons ’n medelydende vriend kan wees: ”Daarom moes Hy in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoëpriester voor God kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en gely het, kan Hy dié help wat versoek word” (Heb.2:17,18). ”Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord” (Ps.119:67). “Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby,maar dit loop vir ons uit op ’n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly” (2 Kor.4:17).
“Here, vandag vertrou ek in U trou en krag.”