Vry 10 Apr: Die Goeie Belegging

Lees Lukas 6: 37 – 42

“Gee en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee” (38)

Jare gelede was werk skaars in Nieu En­ge­land. ’n Chris­tenman het gebid vir werk, maar kon nie werk kry nie. Een Sondag gaan hy kerk toe. Die kollekte word opgeneem. Hy het nog net een dollar oor in sy sak, maar hy gooi die helfte, 50c in die bordjie.

Daardie Maandag­og­gend hoor hy van ’n werk in ’n naburige dorp. Hy gaan stasie toe om ’n trein­kaar­tjie daar­­heen te koop. Die treinkaartjie kos ’n dollar. Hy koop met die 50c wat hy nog het, ’n kaar­tjie tot halfpad. Halfpad na die dorp toe klim hy af om die res van die pad te stap. Skaars ’n blok verder sien hy ’n kennis­gewing dat ’n werknemer ’n entjie daarvandaan benodig word. Hy gaan vra en hy kry die werk. En hulle betaal $5 meer as die vorige werkplek waarheen hy eintlik op pad was.

Dit is ’n skoenfabriek waar hy sy nuwe werk kry. Hier­die man was W. L. Dou­glass wat die beroemde skoen­fabrikant ge­word het! Niemand het nog ooit vry­ge­wigheid aan God se belange berou nie. God is ryk en almagtig en hy kan iemand wat ruim aan Hóm gee, seën en terugbetaal. “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droef­heid of uit dwang nie, want God het ’n bly­moe­dige gewer lief. God het mag om alle ge­nade oorvloedig oor julle te laat wees, sodat jul­le altyd in alle opsigte volop kan hê en oor­vloedig kan wees tot elke goeie werk” (2 Kor.9:7,8).

“Here, vandag belê ek in u koninkryk.”