Vry 1 Mei: Saam met oortreders getel

Lees Jesaja 53: 1 – 12 (Ou Vertaling).

“…omdat Hy sy siel uitgestort het in die dood en saam met die oortreders getel was, terwyl Hy tog die sonde van baie gedra en vir die oortreders gebid het” (12).

In Mightier Than The Sword skryf biskop Heas­lett oor sy ervaringe in ’n Japanese tronk. Met groot gevoel skryf hy hoe totaal ver­late en verwerp hy na sy arrestasie gevoel het. Ek gee sy eie woorde: ”The uncleanness of body, the soiledness of mind, the hopeless isolation; the complete iden­ti­fi­ca­tion of myself with thieves, gam­blers, suspects, men who trafficked in women; the ruthlessness of the machine in which I had been caught and in which I was as helpless as a small fly in a large spider’s web; above all, what I thought of of as being the failure of my friends and their aban­donment of me; the accumulated shame and weight of all this brought me that night to bitter tears and the verge of a breakdown.” Toe hy hierdie toe­stand van ver­bryseling en grens van uithouvermoë bereik het, lees hy, of onthou hy, die teks uit God se Woord: ”…Hy is saam met die oortreders getel…” Lig en be­grip stroom in sy hart in. ”For the first time and through my own experience, I knew what our Lord had suffered from His arrest until his crucifixion, as far as the human mind can fathom His experiences.”

Jesus se vereenselwiging met sondaars is die kern van sy evangelie van verlossing. Kan ons óóit vir ons in­dink wat ons Heiland vir óns verduur het? Het ons dit al aangeneem? Het ons Hom al dankie gesê? “…die soldate trek toe sy klere uit en hang vir Hom ’n rooi mantel om. Hulle het ook ’n krans gevleg van doring­takkies en dit op sy kop gesit, en in sy regterhand het hul­le Hom ’n stok laat hou…hulle het Hom ook in die ge­sig gespoeg en die stok uit sy hand gegryp en Hom daarmee oor die kop geslaan…die wagte het Hom ge­klap…hulle het sy oë toegehou en Hom dan met die vuis ge­slaan en gesê: ’Toe jy is mos ’n profeet. Wie is dit wat jou geslaan het?’ Hulle het aangekom op die plek wat Kopbeen genoem word en daar het hulle Je­sus teen die kruis vasgespyker. Hulle het die mis­da­di­gers ook teen kruise gespyker, aan weers­kante van Jesus” (Uit al vier evangelies – Lew. Byb.). Deur Hom met ons te vereenselwig, het die Here Je­sus Christus ons son­de­skuld gedra, vir ons by God vergifnis van al ons skuld ver­kry en vir ons die weg na sy God en Vader se troon toe oop­gemaak. Omdat Hy die pad so saam met ons ge­­loop het, het Hy medelye met ons swakhede en struikelinge en is Hy vir ons ’n ontfermende en on­feilbare Saligmaker.

“Here, vandag aanskou ek u lyding vir my en ek prys U.”