Lees Prediker 11:1-6
“Wie die wind bly dophou, saai nie, wie na die wolke bly kyk, oes nie” (4).
Dr. J. H. Jowett het een Saterdagoggend in sy studeerkamer, vir sy preek, die betekenis van Jesus se woorde aan Nikodemus in Johannes 3:8 bepeins: “Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid , maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.” Hy kon die betekenis van Jesus se woorde oor die wind nie heeltemaal begryp nie. Hy besluit om ’n end te gaan stap, die wind oor hom te voel waai en sy hart vir dieper begrip oop te maak. Dit was ’n helder lenteoggend, skoon en koel. Hy stap langs die see af en verlustig hom in die rollende branders. Op ’n afstand sien hy skepe in die hawe lê. Hy sien ook naby die breekwater ’n ou matroos sit; mes in die hand, pyp in die mond, besig om ’n tou te las. “As enige iemand die wind kan verklaar, sal hierdie ou seeman dit kan doen,” dink dr. Howett by homself. Hy gaan sit op die spoelklippies langs die ou man. “Ou man,” vra hy vriendelik. “Kan jy vir my die wind verklaar?” Die ou seeman trek aan sy pyp, kyk uit oor die golwende Noordsee, rig sy oë op die bollende seile van die skepe in die hawe. “Nee,” antwoord hy. “Ek kan nie die wind verklaar nie, maar ek kan ’n seil span.” Dr. Howett spring op. “Dankie, vriend,” roep hy. “Jy het my my preek help kry!”
Om ons en in ons is godgegewe kragte wat ons nie kan peil nie, maar ons kan dit gebruik. Die werk van die Heilige Gees in ons, is vir ons onbegryplik, maar ons kan ons hart oopstel en die Gees gehoorsaam. Die redding wat Christus aan ons gee, is vir ons onpeilbaar, maar ons kan dit aanneem en glo. In Psalm 139 spreek Dawid hierdie verwondering oor God se groot werke uit en dan besluit hy: “Hoe wonderlik is u gedagtes vir my, o God, hoe magtig hulle almal! As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nog steeds met U te doen hê… Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!”
“Here, vandag buig ek voor u grootheid neer en ek lê my klein, behoeftige lewe in u hande.”