Ma 27 Apr: Sien die Kruis

Lees Kolossense 1: 9 – 20

”Deur die bloed van sy Seun aan die kruis het God die vrede herstel, deur Hom het Hy alles op die aarde en in die hemel met Homself versoen.” (20)

In 1707 was die liedere skrywer Isaac Watts – hy het in sy leeftyd 600 liedere geskryf – besig om vir ’n nag­maalsdiens voor te berei, skryf Kenneth W. Osbeck, in sy boek Amazing Grace. ’n Be­sef van Jesus se liefde vir hom persoonlik, om vir hom aan die kruis te sterf, oor­wel­dig sy hart. Hy gaan sit en skryf die lied, wat al vir baie van ons tot seën was: Die teoloog, Mat­thew Ar­nold noem dit die grootste lied in die Engelse taal.

Isaac Watts was ’n buitengewone begaafde seun. Hy was 5 toe hy Latyn geleer het en 9 toe hy Grieks ge­leer het. Toe hy 11 was, het hy Frans geleer en op 12 het hy Hebreeus geleer. Toe hy ouer word het die ge­meen­tesang in die Kerk van Engeland, wat bestaan het uit ’n gewigtige, melodiese herhaling van Psalms, hom bedruk. Hy het gesê: “The singing of God’s praise, is the part of worship most closely related to heaven; but its performance among us, is the worst on earth.”

Al vier evangelies in die Bybel beskryf Jesus se kruis­­dood kort en duidelik met vier woorde: Hulle het Hom ge­krui­sig.” Elke evangelie voeg enkele beson­der­­hede by, soos die plek van kruisiging, die verdeling van sy klere, die wyn en mirre wat Jesus nie wou drink nie, maar gee geen beskrywing van die kruisiging nie. Dit is ’n toneel wat ons, deur bepeinsing, in ons eie hart moet vorm. Die kruisdood van Je­sus kan vir ’n ons ’n on­per­soon­like feit wees, ten­sy die Heilige Gees dit vir ons ’n persoonlike werk­lik­heid maak: When I survey the won­drous cross – (Liedboek 396, Hallelujaboek 76).

Aanskou die Heiland, sien die kruis,
die Hemelvors verag verguis.
Vir my het Hy Hom daar laat hang.
Hy leef, Hy sterf – in my belang.

“Here, vandag aanskou ek U aan u kruis.”