“Maar julle sal krag onvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem…tot in die uithoeke van die wêreld” (8).
Die Bostonse leraar, dr. A. J. Gordon, besoek die wêreldskou in Chicago, skryf Robert L. Sumner in sy boek Biblical Evangelism. Die krag van ’n man, in Oosterse drag, wat sonder om te rus of sy gemaklike aksie te verander, vir ure lank ’n pomp se slinger draai en ’n dik stroom water laat uitspuit, beïndruk Gordon. Hy stap nader. Dit is ’n houtpop! Dit is nie hy wat die pomp draai nie, dit is die waterstroom, wat die pomp draai en hom aan die gang hou. Sumner maak sy gevolgtrekking: “Thus it is with those in the Lord’s work. It isn’t our efforts for Him that achieve the results. The flowing river of the Holy Spirit, channeled through our lives and lips keeps us going and yields infinite results through our ministries.”
Ons voel swak en moeg, ons gee moed op, maar ’n groter krag, hou ons aan die gang om die Here se werk te doen. Dit is wat die Here vir Paulus, onder groot beproewing, gesê het: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (2 Kor.12:9). Aan die Efesiërs skryf Paulus: “Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte kan woon…” (Ef.3:16). Vir die Kolossense bid hy: “Mag God wat oor die mag en die heerlikheid beskik, julle versterk en… die krag gee om in alle omstandighede…te volhard” (Kol.1:11).
“Here, vandag maak ek staat op u krag in my.”