Do 16 Apr: Belangrikste Moment

Lees 2 Korintiërs 6: 1 – 7

“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou… die dag van redding” (2).

Die gevangeniskapelaan moes ’n be­rug­te, maar sterwende sak­keroller, in sy tronk­sel, in sy laaste le­wens­oomblik­ke by­staan. Hy het ernstig en dring­end met hom gepraat en die weg van saligheid probeer ver­duidelik. Hy beklemtoon God se groot liefde vir son­daars en Jesus se lyding en sterwe aan die kruis: “So lief het God die wêreld gehad dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, so­dat elkéén wat in Hom glo nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê” (Joh.3:16). Hy pleit met die man, om soos die moordenaar aan die kruis, in hierdie laaste oomblikke van sy le­we, by Jesus redding te vra: “Dink aan my, Here, wan­neer U in u koninkryk kom” (Luk.23:42). Die hele tyd hou die man sy oë stip op die kape­laan gevestig. Hy kniel by die man en bid vir hom. Toe hy weer reg­op kom, was die man dood. Tus­sen die vingers van sy reg­terhand hang die goue ketting van die leraar se sakhorlosie. In hier­die be­langrikste mo­ment van sy lewe, was sy ver­har­de hart nie by wat die do­minee vir hom oor die ewigheid probeer sê nie, maar by die lok­kende goue ketting aan die dominee se sy.

’n Stukkie statistiek uit Richardsbaai se 1981 ge­meen­te­blad: Meer as 2¼-biljoen men­se leef op aarde. Elke jaar sterf 50 mil­. Elke maand sterf 4 166 466. Elke dag sterf 136 986. Elke uur sterf 5 707. Elke mi­nuut sterf 95. Elke sekonde sterf 2. Dit het u dalk 10 sekondes geneem om die paragrafie tot hier te lees: 20 mense het in die 10 se­kon­des gesterf. Oor ’n uur kan daar meer as 5 000 mense, wat op hierdie oomblik nog leef, dood wees.

Ons mag ­nie in die laaste sekonde, wat ons nog leef, ongered wees nie, want dan wag ’n ewig­heid van smart vir ons. Weet ú al Jesus is u Verlosser? As u twy­fel of nee antwoord, gebruik hierdie se­kon­­de om uit u hart te roep: “Here Jesus, red my!” En ’n ewigheid in die hemel word u deel.

“Here, vandag gryp ek u redding vas.”