Woens 1 Apr: Ek Ook

Lees Hebreërs 2: 10 – 18

“…Hy (moes)in elke opsig aan sy broers gelyk word, sodat Hy ’n barmhartige en getroue Hoë­priester…kon wees om die sondes van die volk te versoen. Omdat Hy self versoek is en ge­ly het, kan Hy dié help wat versoek word” (17,18).

’n Jong klerk in ’n groot firma het sy werk­gewer met ‘n groot som geld bedrieg, vertel Neil Verwey, sen­deling in Japan, vir ons die storie. Die on­eer­­li­ke daad is ontdek en hy is aangesê om by die kan­toor van die seniorvennoot te raporteer. Met swaar hart gaan hy die trappe op na die administratiewe af­deling toe. Hy weet hy gaan afgedank word, en was ook bang dat geregtelike stappe teen hom ge­neem sal word. Sy hele wêreld het ineen­gestort. In die kantoor aan­gekom, vra die seniorvennoot hom oor die misdaad. Is die beskuldiginge waar? Hy erken dit openhartig. Die uitvoerende bestuur­der vra hom: “As jy jou posisie behou, kan ek jou in die toekoms vertrou?” Die jongman ant­woord dadelik, met nadruk: “Meneer, u kan my vertrou. Ek het my les geleer.” Die be­­stuurder sê: “Ek gaan jou nie ge­­regtelik aankla nie en jy kan jou huidige posisie be­hou.” Voor die klerk sy innige dankbaar­heid kan uitspreek, vervolg die bestuurder: “Ek dink jy be­hoort te weet, jy is die tweede man in hierdie firma wat vir die versoeking geval het en wat toegeeflik be­­han­del is. Ek was die eerste. Wat jy gedoen het, het ek ook ge­doen. Die genade wat jy nou ont­vang, het ek ook ontvang. Jy het vergifnis no­dig, ek ook. Maar dit is net God se genade wat ons altwee kan bewaar.”

Dit is elke sondaar se gelukkige posisie voor Chris­tus. Die bestuurder het vir die klerk gesê: “Soos jy, was ek ook in versoeking. Soos jy het ek my ook skuldig gemaak. Nou kan ek in my posisie in die firma jou vryspreek.” So het Jesus Hom met ons vereenselwig. Ons stryd in hierdie wêreld van sonde en ongeregtigheid, het Hy ook ge­ken – net al: Hy het nie soos ons geval en ge­son­dig nie. “Hy was immers in elke opsig net soos ons aan ver­soeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en…gered kan word”(Heb.4:15,16).

“Here, vandag vra ek u vergifnis.”