“…maak jou klaar om jou God te ontmoet…(12).
Die skokkende nuus vlieg soos pyle deur die gange en sale van die paleis: Die koning is dood! Hy is dood in sy bed gevind, vertel Robert J. Morgan in sy boek Stories, Illustrations and Quotes. “Waar is hy heen?” vra een van die koning se raadgewers. “Seker hemel toe,” antwoord die ander. “Nee,” sê die eerste man ernstig, “ek dink nie so nie. Ek dien die koning al jare lank. Ek het baie saam met hom, oral heen, op sy togte saamgereis. Hy het altyd uitvoerig vir sy togte voorberei en daaroor gepraat. Ek het hom nooit oor die hemel hoor praat nie. Dit is ’n bestemming waaroor hy nooit navraag gedoen het en ‘n reis waarvoor hy nooit voorsiening gemaak het nie.”
Jesus het ons gewaarsku: “Gaan deur die nou poort in. Die poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen smal, en dié wat dit kry, is min” (Mat.7:13,14). Tyd vlieg verby. Ons moet tyd maak om oor ons ewigheidsbestemming na te dink. Hoekom was dit vir die Seun van God nodig, om met so ’n diep vernedering aarde toe te kom en met soveel lyding te sterf? Jesus gee die antwoord aan die wat beswaar gemaak het omdat Hy die tollenaar, Saggeus, gered het: “Vandag het daar redding vir hierdie huis gekom …Die Seun van die mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:9,10). Jesus het na ons, as mense, toe gekom om ons van die ewige dood te red. In ons alledaagse lewe gaan ons by Hom verby, soos die koning van wie ons gelees het. Die ingang na die verdoemenis toe is wyd en maklik.
Die omstandighede van die hel is onbeskryflik ellendig. Eensaamheid, pyn, dors wat nooit, nooit, tot in ewigheid nooit, ophou nie. Dit neem `n aanvang die moment na die onbekeerde mens sy laaste asem uitblaas. Ons gaan, sonder uitsondering, elkeen, die sterfervaring deurmaak, en onmiddelik begin die hel as ons nie deur die Here Jesus Christus gered is nie. Niemand het al teruggekom uit die dood, om ons te vertel, hoe dit met `n mens gaan na jy gesterf het nie. Jesus het dit egter vertel: “En die ryk man het … gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë oopmaak, terwyl hy in smarte was sê hy ‘… ek ly smarte in hierdie vlam…’ (Luk.16:23,24). Moenie so `n toekoms tegemoet gaan nie. Gaan nóú in by die noupoort. `n Mens gaan in by die nou poort deur, in die hart, na Jesus, wat vir ons aan die kruis die hel se smart gedra het om ons van ons sondes te red, te draai en te sê: “Here, Jesus, ek neem U nou aan as my Verlosser.” Die moordenaar aan die kruis het dit gedoen: “… “’Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.’ En Jesus sê vir hom: ‘Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees’” (Luk.23:42, 43).
“Here, vandag neem ek my ewigheidsbestemming ernstig op en ek vra u redding.”