Lees Johannes 12: 1 – 8
“Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die olie” (3)
Roy Zuck vertel dat Queen Mary eendag met haar twee kinders in ’n woongebied van Londen geloop het. Sy het alledaagse klere aangehad om te voorkom dat mense in die straat om haar saambondel. Sy was lief om met gewone mense te meng. ’n Reënbui oorval hulle. Sy gryp die kinders se hande en hardloop na ’n nabygleë huis. Vieserig laat die huisvrou die nat vrou en twee ewe nat kinders in haar huis in. Queen Mary vra of sy ’n sambreel kan leen om in die reën huis toe te kan gaan. Sy beloof om die sambreel die volgende dag terug te stuur. Die huisvrou het darem nie lus om haar goeie sambreel vir die vreemde vrou te leen nie. In ’n stoorkamertjie het sy ’n ou sambreel met twee gate in en een van die strekribbes gebreek, maar sy leen dit vir die vrou. Kom dit nie terug nie is dit nie ’n skade nie. Die volgende dag bring een van die deftige paleiswagte in volle uniform dit terug. Hy sê vir die verwonderde huisvrou: “Die koningin stuur dit terug. Sy sê baie dankie dat jy dit vir haar geleen het.” Verstom roep die vrou uit: “Die konining. Was dit die koningin!. Ag, wat ’n geleentheid het ek gemis. Ek sou vir haar my beste sambreel gegee het as ek net geweet het!”
Wanneer ons eendag die Here Jesus Christus in sy volle heerlikheid sien, gaan ons ook spyt wees ons het Hom tydens ons aardse lewe die stukkende sambreel gegee het, tweede of derde beste van ons lewe, in plaas van heel beste. As ons nie moeite doen en ruimte maak om Hom in ons stiltetyd, deur gebedsomgang en Bybelstudie, te leer ken nie, kan ons maklik in ons toewyding aan Hom kortkom.
“Here, vandag wil ek U leer ken en die beste van my lewe aan U gee.”