Wo 25 Mrt: Irritasies

Lees Hooglied 2:15

“Vang vir ons…die klein jakkalsies…wat die wingerde verniel…”

Dr. Thomas Lambie en sy geselskap, het met hul ry­diere deur ’n lang, warm vallei, in Ethiopië ge­­swoeg. Daar­na het hulle ’n steil hang uit­ge­sukkel. Met dank­baarheid verwelkom hulle die koel en verkwikkende lug­gie wat op die kruin van die steil­te trek. Die kamp waar­heen hulle op pad is, en waar die ander sen­de­linge op hulle wag, kan nie meer ver wees nie. Hier­van­daan loop die pad gelyk en effens af­dra­end. Die terrein is met heuphoë, droë gras bedek. Na die moeilike pad tot hier, reis hulle opgewek verder. Dit is ’n makliker pad. Hulle het te gou bly geword. Na hulle ’n endjie gery het, begin almal hewig krap. Selfs die muile begin hul pote ergerlik op die grond stamp. Hulle bekyk die grashalms. Saad­halmpies steek op boontoe. Die punte het ’n menigte skerp stekertjies, almal soos bajonette gevorm. Dit steek die ontblote lig­gaams­­dele, klou aan die klere vas en werk hul pad in na die vel toe, waar dit ondraaglike ir­ri­tasie veroorsaak. Die mak­liker pad oor die gras­veld, is vir hulle meer uitgeputtend, as die moeilike op­dra­ende pad, waarmee hulle tot sover gekom het.

In ons daaglikse gang beleef ons ook klein ir­ri­ta­sies, wat ’n mens se geduld en Christenskap, meer beproef, as groot en moeilike take. ’n Mens kan ’n steil geloof­stoets oorwin en dan deur die klein irritasies sy ge­loofs­vreugde verloor. Geduld is ’n vrug van die Heilige Gees. Maar ons het nie net geduld nodig, vir die irritasies wat uit die omgewing, of van mense om ons wat onbe­dagsaam op­tree, kom nie. Ons het ook met onsself geduld nodig, om nie vir ander, uit onbedagsaamheid, irritasies te skep nie. In ’n nuwe vertaling deur prof. Hennie Stan­der, vir kinders bedoel, daarom vir ons ver­staanbaar, klink 1 Kor.13:4,5 so: “As ’n mens regtig lief is vir Jesus en vir mense dan: sal jy nie lelik wees met iemand wat vir almal ’n pyn gee nie…altyd gaaf wees met mense… nie oor jouself loop en praat nie… nie dink dat jy darem baie belangrik is nie…nie met ander mense lelik maak nie… nie altyd net aan jouself dink nie…nie oor elke ding kwaad raak en dan net wil stry of baklei nie…nie altyd terugdink aan dit wat ander verkeerd teen jou gedoen het nie.”

“Here, vandag wil my ek my oë so op U hou, dat klein dingetjies my nie sal ontstel en my van my vreugde in U beroof nie.