“Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing…(25)
‘n Luidrugtige, besope man, gevolg deur sy vrou en seuntjie, strompel ‘n stasie in Skotland binne en klim steierende op die trein, vertel die American Holiness Journal. In die trein val die dronke op ‘n sitplek neer, waar hy met sy luidrugtige pratery en liedjies voortgaan. Sy vrou en seuntjie gaan verleë op ‘n ander sitplek sit. Oorkant hom sit ‘n werker van ‘n alkoholiese matigheidsvereniging. Hy weet uit ervaring, dit sal geen doel dien om met die man te probeer praat nie. Hy is self ‘n toegewyde Christen, wat in sy werk baie steun op Christus se verlossingskrag. Op die ingewing van die oomblik, en tot verbasing van die ander passasiers, begin hy een van die bekende, ou herlewingsliedere sing. Sy ryk baritonstem dra bo die trein se gerammel uit. Dit word stil in die treinwa. Selfs die ou dronkie raak stiller en nie lank nie of die ou sit, luid snorkend en slaap. Na ‘n paar uur word die man wakker. Nou is hy meer sober. ‘n Rukkie later hou die trein stil en die matigheidsman maak gereed om af te klim. Die man wat so dronk was, hou sy hand uit en groet hom met die hand en bedank hom vir die lied wat hy gesing het. Vyftien jaar later is hierdie matigheidsman die spreker by ‘n matigheidskongres. Na ‘n goeie lesing wat hy gegee het, kom ‘n netjiesgeklede man en sy vrou hom groet. Die man vra of die matigheidswerker hom onthou. Hy skud sy kop. Die man sê: “Omtrent vyftien jaar gelede was ek dronk op die trein. Jy het my aan die slaap gesing. Ek kon nie wegkom van daardie liedere nie en na ‘n rukkie het ek die Here Jesus as my Verlosser vertrou. My seuntjie, Joseph, wat by was, is nou in ‘n teologiese skool. Hy gaan predikant word.” In latere jare was hiérdie Joseph, dieselfde man, dr. Joseph Parker, wat ‘n geseënde en invloedryke bediening, in een van Londen se grootste kerke, uitgeoefen het.
Die beriggie in die Journal sê nie watter lied die man gesing het nie. Dit kon dalk gewees het: “Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil, is daar lewe vir jou en vir my; Sien gelowig op Hom, word gereinig en leef, want verlossing bied Jesus jou vry.” Of: “Daar’s ‘n dierbare kruis, waar my Heiland bewys, die liefde wat Hy vir my het; Dáár is alles voldaan en die vyand verslaan, dáár word ek van sonde gered.” Miskien: “Eew’ge Rots, geklief vir my, laat my veilig in U bly! Laat die water en die bloed, uit u sy, as lewensvloed, my tot heil wees en tot krag, teen die sondeskuld en mag!” Of: “Siel vol kommer en vol smart, by die kruis is heil! Bring die weeklag van jou hart, by die kruis is heil! Fluister al jou leed Hom sag, Jesus gee aan swakkes krag; spreek vermoeide, Hy gee ag – By die kruis is heil!” Of dit was: “Net soos ek is, geen hulp naby; alleen u bloed gestort vir my; Getrek tot u deurboorde sy – O Lam van God, ek kom!” Watter lied dit ookal was; vir die siek, magtelose, vernederde, skuldige man het die lied ‘n reddingsboodskap gebring.
“Here, vandag, kom ek met my sondenood na U toe.”