Vry 27 Mrt: Verreikende Krag

Lees Handelinge 16:22-34

“Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot lof van God te sing…(25)

‘n Luidrugtige, besope man, gevolg deur sy vrou en seuntjie, strompel ‘n stasie in Skotland binne en klim steierende op die trein, vertel die Ame­rican Holiness Journal. In die trein val die dron­ke op ‘n sitplek neer, waar hy met sy luidrug­tige pratery en liedjies voortgaan. Sy vrou en seun­tjie gaan verleë op ‘n ander sitplek sit. Oor­­kant hom sit ‘n werker van ‘n alkoholiese matig­heids­­vereniging. Hy weet uit ervaring, dit sal geen doel dien om met die man te probeer praat nie. Hy is self ‘n toe­gewyde Christen, wat in sy werk baie steun op Chris­tus se verlossingskrag. Op die in­gewing van die oom­blik, en tot verbasing van die ander passasiers, begin hy een van die be­kende, ou herlewingsliedere sing. Sy ryk bari­ton­stem dra bo die trein se gerammel uit. Dit word stil in die treinwa. Selfs die ou dronkie raak stil­ler en nie lank nie of die ou sit, luid snorkend en slaap. Na ‘n paar uur word die man wakker. Nou is hy meer so­ber. ‘n Rukkie later hou die trein stil en die matig­heidsman maak gereed om af te klim. Die man wat so dronk was, hou sy hand uit en groet hom met die hand en bedank hom vir die lied wat hy gesing het. Vyftien jaar later is hierdie matig­heids­man die spreker by ‘n ma­tigheidskon­gres. Na ‘n goeie le­sing wat hy gegee het, kom ‘n netjiesgeklede man en sy vrou hom groet. Die man vra of die matigheidswerker hom onthou. Hy skud sy kop. Die man sê: “Omtrent vyf­tien jaar gelede was ek dronk op die trein. Jy het my aan die slaap gesing. Ek kon nie wegkom van daardie liedere nie en na ‘n rukkie het ek die Here Jesus as my Verlosser vertrou. My seuntjie, Joseph, wat by was, is nou in ‘n teologiese skool. Hy gaan predikant word.” In la­tere jare was hiérdie Joseph, dieselfde man, dr. Jo­seph Parker, wat ‘n geseënde en invloedryke bediening, in een van Londen se grootste kerke, uitgeoefen het.

Die beriggie in die Journal sê nie watter lied die man gesing het nie. Dit kon dalk gewees het: “Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil, is daar lewe vir jou en vir my; Sien gelowig op Hom, word gereinig en leef, want verlossing bied Jesus jou vry.” Of: “Daar’s ‘n dierbare kruis, waar my Heiland be­wys, die liefde wat Hy vir my het; Dáár is alles vol­daan en die vyand verslaan, dáár word ek van sonde gered.” Miskien: “Eew’ge Rots, ge­klief vir my, laat my vei­lig in U bly! Laat die water en die bloed, uit u sy, as le­wensvloed, my tot heil wees en tot krag, teen die son­deskuld en mag!” Of: “Siel vol kommer en vol smart, by die kruis is heil! Bring die weeklag van jou hart, by die kruis is heil! Fluister al jou leed Hom sag, Jesus gee aan swakkes krag; spreek vermoeide, Hy gee ag – By die kruis is heil!” Of dit was: “Net soos ek is, geen hulp naby; alleen u bloed gestort vir my; Getrek tot u deurboorde sy – O Lam van God, ek kom!” Wat­ter lied dit ookal was; vir die siek, magtelose, ver­nederde, skuldige man het die lied ‘n reddings­bood­skap gebring.

“Here, vandag, kom ek met my sondenood na U toe.”