Ma 30 Mrt: Woorde vir die Sterfbed

Lees: 1 Korintiërs 2:1-5

“Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie, as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.” (2)

Een van Engeland se grootste predikers, C. H. Spur­geon, het op sy sterfbed aan ’n vriend gesê: “My te­o­logie bestaan nou uit vier woorde: Christus ge­sterf vir my. Ek wil nie hiermee sê ek sal nie weer oor ander as­pekte van die geloofslewe preek as ek gesond word nie, maar hierdie vier woorde is genoeg om mee te sterf.” Jesus Christus se kruis­dood, is die onfeilbare waarborg vir toegang tot God se ewige hemel, na ons sterwe. Elkeen wat kan sê: “Christus het vir my ge­­sterf,” het deel gekry aan die ewige lewe en sal nie verlore gaan nie. “En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe” (1 Joh.2:25). In Christus se kruisdood is ons son­­deskuld weggeneem: “Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir die wat glo.” (Rom.3:25). Wie in Christus se kruis­dood glo, daarin ver­trou en vir homself aanneem, ontvang die ewige le­we: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16). Ons sterwe, die grootste en sekerste krisismoment van gans ons lewe, is vir ons almal ’n vreesaanjaende vooruit­sig. Die angs word deur ’n opheffende verwagting van saligheid vervang, as ons weet: “Ek het Jesus Christus as my Salig­maker aangeneem en ek weet ek gaan hemel toe as ek sterf!”

“Here, vandag weet ek U is my Verlosser.”