“…mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus…(14)
Sir John Bowering, die begaafde natuur- en taalkundige van amper twee eeue gelede, was ’n leidende politieke en finansiële figuur in sy tyd. Hy kon in dertien tale en dialekte skryf. Op ‘n keer was hy goewerneur van Hong Kong. Dit is hy wat die floryn, die Engelse tweesjielingstuk, uitgevind het. In 1825, vertel Our Youth, het Sir John aan die suidkus van Sjina, in die omgewing van die hawe van Macao, skipbreuk gely. Die Portugese setlaars het ’n massiewe katedraal op ’n heuwel, wat oor die hawe van Macao uitkyk, gebou. ’n Aardbewing het die katedraal, in puin gelê. Net die toring, met ’n kruis op, het in die bouvalle gedeeltelik staande gebly. Sir John se skip het naby dié plek gesink. Hy het aan ’n stuk van die wrak vasgeklou. Hy kon die kruis, op die stuk toring tussen die bouvalle op die heuwel, sien uitsteek. Hy het dadelik geweet waar hy hom bevind en dit het hom koers gegee om die land te bereik en by mense uit te kom. Na hierdie ervaring van hom het hy ’n lied geskryf wat aan miljoene bekend geword het:
In the cross of Christ I glory;
Towering o’er the wrecks of time;
All the light of sacred story
Gathers round its head sublime.
Uit die puin van hierdie wêreld waarin ons leef, verrys die kruis, die boodskap van God se liefde en die Here Jesus Christus se redding, en gee aan drenkelinge koers en hoop. “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” het die sipier van Filippi die nag van die aardbewing by die tronk uitgeroep. Paulus en Silas het geantwoord: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word…” (Hand.16:30,31). Sterwend aan die kruis het die veroordeelde misdadiger na Jesus toe uitgeroep: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom!” Jesus het dadelik geantwoord: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk.23:42,43). So roem Paulus in die hoop van die evangelie van die Here Jesus Christus: “Ek skaam my nie oor die evangelie nie, want dit is ‘n krag van God tot redding van elkeen wat glo…” (Rom.1:16).
“Here, vandag gee u evangelie my hoop.”