Vry 13 Mrt: Selfvernietiging

Lees ROMEINE 6 : 11 – 14 NUWE LEWENDE VERTALING

“Julle moenie langer toelaat dat sonde julle aardse lewe beheer nie; moenie toegee aan sy verleidelike begeertes nie (12).

Onder die titel, Sin’s Peril, deur Paul Harvey in die Leadership Journal van 1987, vertel hy hoe die Es­ki­mo’s wolwe doodmaak. Hulle neem ’n skerp, langlem mes en bedek dit met bloed. As die bloed gevries is, doop hulle die lem weer in bloed. Hulle herhaal die proses totdat die skerp lem met ’n dik laag bloed bedek is. Dan steek hulle die mes se hef stewig in die grond vas, sodat die bloedbe­dekte lem boontoe opsteek. ’n Wolf ruik die bloed en begerig en hongerig volg hy die bloedreuk, tot­dat hy by die bloedbedekte mes uitkom. Die wolf lek aan die bevrore bloed. Die smaak op sy tong maak hom vinniger lek. In Paul Harvey se eie woor­­de: “Feverlish now, harder and harder the wolf licks the blade in the arctic night. So great becomes his craving for blood that he does not notice the razor-sharp sting of the naked blade on his own tongue, nor does he realize that his insatiable thirst is being satisfied by his own blood. He just craves more and more until he drops dead in the snow. We are consumed, the Bible warns us, by our own lusts.”

Dit is ’n selfvernietigende weg om onbeheersd aan die luste van ons sondige natuur toe te gee. Ons het die inwonende Heilige Gees se krag in ons nodig om sonde se aanspraak op ons te weer­staan. Die beste tyd om teen sonde te stry, is om aan die begin van ’n versoeking ’n mens se toevlug tot die Here Jesus te neem en dit te bely. “’n Mens wil in jou hart graag teen die versoeking veg, maar die menslike geaardheid het nie die krag om dit te doen nie” (Mark.14:38 LEWENDE BYBEL). Jésus het dit vir sy dis­sipels in die tuin van Getsemané gesê. As Mens het ook Hy die krag van sonde geken, maar nooit daaraan toegegee nie. Hy, wat ons so goed ken, is vir ons ’n Hel­per in ons stryd teen versoeking en ook vir ons ’n Voorspraak by sy Vader. “En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voor­spraak by die Vader” (1 Joh.2:1). Dr. F. B. Meyer skryf in sy boek The Christ Life for Your Life dat dit Christus se doel is om ons van die krag van sonde te ver­los. “Abide in Jesus. Let the Holy Ghost in you keep you abiding in Jesus, so that when Satan comes to knock at your door, Jesus will go and open it, and as soon as the devil sees the face of Christ looking through the door, he wil turn tail…”.

“Here, vandag skuil ek by U teen die mag van sonde.”