“Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My… Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig” (28-30).
In sy boek Amazing Grace vertel Kenneth B. Osbeck van die lied wat die Griekse monnik, Stephen the Sabaite, in ‘n klooster geskryf het. Dit antwoord gemoedsvrae wat ook in ons harte ontstaan. Vandat hy tien jaar oud was, het Stephen in die klooster van Mar Saba in die boswêreld van Judea gewoon. Hy was later die ab, of kloosterhoof, in Engels, abbot, van die klooster, totdat hy op 90-jarige ouderdom dood is. Die Engelse leraar, John M. Neale, het in 1862, hierdie lied, onder die titel Art Thou Weary, in sy liederebundel, Hymns of the Easten Church, opgeneem. Die eenvoudige en direkte rangskikking van ’n vraag in die eerste reël en dan die antwoord in die tweede reël, verseker ons van God se standhoudende getrouheid. Dit het aan talle, ook aan pres. Franklin D. Rooseveldt, bemoediging gegee. Kenneth Osbeck lui die lied in met hierdie woorde: “Inspired by Christ’s loving offer of pardon and rest for the weary and distressed soul, this eighth-century Greek monk wrote these plaintive lines.”
Ons het die lied in Afrikaans:
Is u moeg, bedroef, swaarmoedig, of van skuld bewus?
“Kom tot My,” roep Iemand vriend’lik, “Ek gee rus.”
Hoe sal ek Hom ken as Leidsman, hoe volg ek sy spoor?
“Kyk, sy hande, sy en voete is deurboor!”
Kleef ek nogtans aan Hom vaster, wat bied Hy dan aan?
“Rus ná arbeid, en ’n kalme doodsjordaan.”
Sal Hy weier op my bede: “Here, neem my aan?”
“Nee, dan sal die aarde^en hemel eer vergaan.”
Kan ek veilig voorwaarts wandel, steun op sy gena?
“Engel, martelaar, apostel antwoord ‘ja’!
“Here, vandag is dit my hart se lied.”