Di 24 Mrt: Die Toets

Lees Efesiërs 5: 6 – 20

“Leef dan as mense van die lig…Wees baie ver­sig­tig hoe julle lewe…Maak gebruik van elke ge­leent­heid want ons lewe in ’n goddelose tyd” (8-16).

’n Christen barones het in die hoogland van Nai­­­robi, Kenia gewoon, vertel Leslie Flynn. Sy het een van die omgewing se in­boorlinge as ’n huis­­hulp in diens geneem. Hy was besonder net­jies, skerp­sinnig en goed­ge­aard. Hy het sy werk vin­­nig ge­leer en die be­langrike vrou was baie te­vre­­de met sy diens. Na hy drie maande vir haar gewerk het, vra hy by haar ’n aanbevelingsbrief om by ’n vrien­delike Sheik, wat enige kilometers verder ge­woon het, werk te kry. Sy wou die knap jongman nie verloor nie en bied hom ’n loon­verhoging aan. Hy ver­duidelik vir haar, dit is nie oor sy loon dat hy wil weggaan nie, maar hy weet hy moet oor sy gods­diens be­sluit. Hy wil nie sonder `n godsdiens­ge­loof deur die lewe gaan nie. Dit is die rede, dat hy vir haar kom werk het. Hy het geweet sy be­hoort aan die Chris­telike ge­loof en hy wou self sien hoe leef so iemand in die huis. Nou gaan hy na die Mos­lem­man toe om te sien hoe leef ’n Moslem. Dan sal hy besluit of hy ’n Christen of ’n Moslem gaan word. Leslie Flynn skryf: “The ba­ro­ness was stun­ned, as she recalled her many ble­mishes in her dea­lings with the houseboy. She could only ex­claim, ‘Why didn’t you tell me at the beginning!’”

Dit is ’n betroubare toets van die egte, innerli­ke lewe: hoe gedra mens jou in jou eie huis, teenoor jou eie mense? En veral teenoor jou minderes, die bediende? ’n Mens het nie van nature, so ’n goedheid in ‘n mens se innerlike lewe, dat Christelike gedrag daar­uit sal voortvloei nie. Slegs as Christus sy eie geaardheid, deur die Heilige Gees, in ’n mens se hart inplant, kan ’n mens dit ook as spontane, priva­te lewenswyse uitleef. “Die…Raad was ver­baas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien (en)… het hulle as volgelinge van Jesus herken” (Hand.4:13).

“Here, vandag wil ek u lig laat skyn uit my lewe.”