Ma 16 Mrt: Die Kenner

Lees Psalm 139

“Here, U sien dwarsdeur my, U ken my…U het my ge­vorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moe­der…Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!” (2, 13, 24).

Billy Graham vertel in sy boek World Aflame van ‘n man wat met sy ou Ford langs ‘n onbeken­de roete op pad is. Die motor gee ‘n paar rukke, die enjin gaan dood en die motor staan. Wat nou gedoen? Hy weet nie veel van ‘n motor af nie, maar hy klim uit en maak die enjinkap oop. Hy peu­ter aan die drade, kyk vir iets wat dalk los is, kap hier, kap daar. Toe hoor hy ‘n motor aankom. Dit kom nader en hy sien dit is ‘n blink, nuwe Lin­coln. Die man is so gaaf om stil te hou. Hy klim uit en kom nader. “Wat skort?” vra hy. Die man sê, ”My ou Ford het net die gees gegee.” “Laat ek bie­­tjie kyk,””sê die vriendelike vreemdeling. Hy kyk, voel aan enjindele, trek aan die drade. “Het jy ‘n skroe­wedraaier?” vra hy. Met die skroewedraai­er maak hy ‘n verstelling aan een van die enjin se de­le, klim in die motor en die motor kom dadelik aan die gang. “Wonderlik,” roep die Ford­eienaar uit. “Jy kén ‘n Ford! Wie is jy?” en hy steek sy hand uit om te groet. Die man trek sy baadjie aan en glimlag: “Ek is Henry Ford. Ek behoort darem die motor wat ek self gemaak het te ken.”

Dit is ons groot voordeel in ons onderhande­linge met God oor ons lewe. Hy het ons gemaak. Hy ken ons. “Soos ‘n vader hom ontfem oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor dié wat Hom vrees. Want, Hy weet watter maaksel ons is, ge­dagtig dat ons stof is” (Ps.103:1,14 OU VERT.) Nog meer: in Jesus het God ‘n mens geword. Ek sê dit met eerbied, God het in eie lyf gevoel hoe dit is om in hierdie wêreld ‘n mens te wees. Jesus het hon­ger geword, dors geword, is uitgeskel, het moeg geword, is deur die duiwel versoek, Hy het fisies gely, Hy het geestelik gely. Daarom die groot ver­troosting in Hebreërs 4:15,16: “Die Hoë­pries­ter wat ons het , is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan ver­soe­king onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”

“Here, vandag kom ek vrymoedig by U redding vra.”