“Daarom hou moed , manne; want ek glo God dat dit so sal wees soos aan my gesê is” (25).”
Jan Winebrenner skryf in sy boek, Steel in his Soul, oor Dick Hillis en sy gesin se ervaringe in Shenkiu in Sjina, tydens die Japannese inval. Gerugte oor die naderende Japannesemag het groot spanning in die dorp verwek. Juis toe tref ‘n blindedermaanval Dick en moes hy op 15 Januarie 1941, in der haas, hospitaal toe, in ‘n ander dorp, vervoer word. Margaret en die kinders het agtergebly. Die Sjinese kolonel het kom sê die Japannese is naby en die dorp moet ontruim word. Margaret het behoorlik gebewe van vrees. Sy wis Johnny, 1½ jaar oud, en Margaret Anne slegs 2 maande oud, sou so ‘n vlugpoging nie oorleef nie. Sy het in haar huis aangebly. Die volgende oggend skeur sy die muurkalender se blad af en lees die nuwe dag se teks en oordenking: Psalm 56:4 – “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U.” Die dorp het deur die dag leeggeloop en die volgende oggend voel Margaret alleen en verstote. Weer skeur sy die vorige dag se bladsy van die muurkalender af en lees die nuwe teks, Psalm 9:10,11 – “Vir die mens wat in gevaar verkeer, is die Here ‘n toevlug…want U, Here, laat dié wat na U vra nie in die steek nie.” Die volgende oggend word sy wakker met die klank van kanonvuur in haar ore. Haar groot bekommernis is egter kos vir die kinders. Dié oggend is die muurteks Genesis 50:21 – “Moenie bang wees nie. Ek sal sorg dat julle en julle kinders kos het.” Van nêrens af nie verskyn ‘n ou vrou by die deur met ‘n emmertjie stomende bokmelk in haar hande. ‘n Rukkie later bring iemand anders vir haar ‘n mandjie eiers. Deur die dag word die oorlogklanke al harder. Daardie nag slaap Margaret nie. Heelnag bid sy vir verlossing. Die volgende oggend skeur sy gister se kalenderblad af en die nuwe muurteks is Psalm 56:10 – “Die dag as ek na U roep om hulp val my vyande terug.” Deur die dag word die kanongebulder en geweervuur nóg harder en weer kan Margaret nie gaan lê om te slaap nie. Die inname van die dorp lyk onvermydelik. Weens uitputting sluimer sy deur die nag in haar stoel in. Toe sy teen oggend wakker word, is dit doodstil. Dorpinwoners begin terugkeer huis toe. Die Sjinese kolonel klop aan haar deur. Om een of ander rede het die Japannese teruggetrek, lig hy haar in. Niemand kan dit verstaan nie, maar die gevaar is verby. Margaret kyk na haar kalender teen die muur en sy voel in haar hart die opheffende blydskap van ‘n wete dat sy God se handskrif teen die muur gelees het en daardeur getroos is.
Die wete dat God betroubaar is, omdat die Heilige Gees dit in ons harte bevestig, en die kennis van sy beloftes, maak die Christen oorwinnend in sy noodsituasies in hierdie wêreld: “Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het” (Rom.4:21).
“Here, vandag luister ek na u belofte en ek glo.”