Lees Markus 9: 33 – 37
“…hulle het langs die pad met mekaar gestry oor wie van hulle die belangrikste is” (34).
G.B.F.Hallock vertel van ’n groep Engelse toeriste wat die huis, waarin Beethoven sy laaste jare deurgebring het, besoek het. Die gids bring hulle in ‘n belangrike vertrek in die huis, die kamer waar Beethoven se klavier bewaar word. Sag, eintlik eerbiedig, sê hy: “En hier is die meester se klavier.” ‘n Jong vrou druk van agter af vir haar ’n pad oop en gaan sit voor die klavier en speel, nogal behendig, een van Beethoven se sonatas. Sy hou op, kyk na die gids en sê: “Ek neem aan baie pianiste geniet dit om op hierdie klavier te speel?” “Wel, Juffrou,” sê die gids met ’n uitdrukkinglose gesig, ”dit is seker so. Ignacy Paderewski was verlede somer met ’n groep van sy klavierstudente hier. Hulle wou hê hy moet op die klavier speel. Hy wou nie. Hy het gesê: ‘Ek kannie, want ek is dit nie werd om op die meester se klavier te speel nie.’” Hallcok maak die opmerking aan die einde van sy storie: “The greatest expression of humility is simply to remain silent and let the applause go to the other person, the person of greatness.”
Min dinge word in mense juis so waardeer as opregte nederigheid. So ’n gesindheid is alleen moontlik as ’n mens van ’n groter persoon bewus is. Dit is die geheim van die Christen se nederigheid: ’n besef en bewussyn van Christus Jesus se grootheid. Dit was die bepalende gesindheid van Paulus: Jesus Christus se grootheid. “Maar wat my betref…ek is met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe…” (Gal.2:19,20).