“…Hy (het) ons die grootste en kosbare beloftes geskenk, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur…Want so sal ryklik aan julle verleen word die ingang in die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus” (4,11)
In John Bunyan se boek, Pilgrim’s Progress, vertel hy op storiegewys hoe ’n Christen se geloofslewe verloop. Die verskillende belewenisse van ontmoediging en bemoediging in die geestelike lewe, word in die boek as karakters en plekke geskilder. So is daar eerste Evangelis wat vir hom die weg na die hemel verduidelik, en dan manne wat hom probeer ontmoedig: Koppig, Plooibaar, Wêreldwys en ander. Dan kom manne weer op die toneel wat hom vorentoe help: Welbehae, Godsvrug, Wysheid, Liefde en ander. Hy beland bv. in die Poel van Wanhoop en later in Twyfelkasteel. Op ’n dag word die pad vir Pelgrim te steil. Hy klim oor die heining langs die Nouweg en beland op ’n lekker, sagte pad wat alte lekker gelyk loop. Hierdie nuwe paadjie word egter al klammer en later modderig (’n gelowige ervaar dit so as hy begin afdwaal). Doringagtige en giftige plante groei oral en Pelgrim begin moeg word. Die son verdwyn en die lug word donker. Onder ’n akkerboom probeer hy skuil teen die reën wat begin uitsak. Dit blits en donder in die lug. Naby die plek waar Pelgrim nou lê en slaap is Twyfelkasteel, met die reus Wanhoop as bewoner. Hy kom op Pelgrim af en smyt hom in Twyfelkasteel se kelder. Pelgrim, wat nou die naam Christen dra, na hy by die kruis van sy swaar las ontslae geraak het en die nou weg gekies het, probeer sing, maar sy gemoed is so donker en swaar, hy kry nie reg om te sing nie. Reus Wanhoop slaan en kasty hom sonder genade. Elke dag word Christen swakker. In sy sel lê ’n tou, ’n mes en ’n bottel gif. Alles werktuie vir selfmoord. Vir ’n oomblik oorweeg Christen om só ’n einde aan sy ellende te maak. Maar toe, een nag, na middernag, begin hy bid. Ek haal aan uit Bunyan se boek: “…a little before day, good Christian, as one half amazed brake out into this passionate speech: ‘What a fool am I, thus to lie in a stinking dungeon, when I may as well walk at liberty! I have a key in my bosom, called Promise, that will, I am sure, open any lock in Doubting Castle.’ It did. Using the key of God’s promises, Christian escaped, never again to fall into the clutches of Giant Despair of Doubting Castle.”
So kan ons wanhoop in ons Christenlewe ervaar. God voel ver van ons af. Ons voel swak en skuldig. Alles is donker. Dan ontsluit God se beloftes vir ons die deure van hierdie wrede gevangenis. “My siel kleef aan die stof; maak my lewend na u woord. My weë het ek vertel, en U het my verhoor; leer my u insettinge!” (Ps.119:25 Ou Vert.).
“Here, vandag glo ek U het my aangeneem en U ken my.”