Vry 1 Aug: Die Onwelkome Gebeurtenis

Lees:  Openbaring 22 : 12 – 21

“Hy wat dit alles getuig, sê: ‘Ja, Ek kom gou!’ Amen! Kom Here Jesus” (20)

Een aand preek Dr. H. A. Ironside in Stock­ton, Ca­li­for­nië oor Christus se wederkoms.   Hy vertel, toe hy sy slot­gebed doen en in die gebed die Here dank oor die voor­uit­sig van die Here Jesus se wederkoms, bid hy: “Kom, ja, kom gou Here Jesus!” Hy word be­wus van ‘n vrou wat op­staan en haastig uit die kerk uit­loop. Dit was die dae toe vroue wye rompe gedra het. Hy sê daaroor: “In those days the skirts would swish whenever a lady walked. It seemed to me that this lady must have gone out in a hurry!” Na hy die diens afge­sluit het en na die deur toe gegaan het om mense by die deur te groet, soos die gewoonte in daardie kerk was, kom hy af op ’n vrou wat opgewonde heen en weer in die voor­portaal op en af stap. Die oomblik toe sy hom sien kom sy op hom af­­ge­stap. “Hoe durf jy so ’n gebed bid – Kom Here Jesus? Ek wil nie hê Hy moet kom nie! Dit sal al my planne ver­ongeluk! Hoe durf jy so bid?” Hy antwoord haar: “My liewe jong dame, Jesus kom weer of jy daarvan hou of nie.” Hy sluit sy storie af met die opmerking: “Oh, if you know Him and love Him, surely your heart says, ’Come, Lord Jesus!’”

Is Jesus se wederkoms vir óns ’n welkome vooruitsig? Baie Chris­te­like kerkmense verlang nie na sy wederkoms nie. Een rede kan wees dat ons die huidige wêreld nog lief het, dat ons le­wenswyse ons bang maak vir sy wederkoms, dat ons nie goeie rekenskap sal kan gee van die taak wat Hy ons opgelê het om die verlore mens­dom vir Hom te wen nie. As ons Chris­tus as ons Verlosser ken en in ’n goeie verhouding met Hom lewe, hoef ons nie vir sy koms bang te wees nie. “En nou, liewe kinders, julle moet in Hom bly, sodat ons almal niks te vrees sal hê wanneer Hy kom nie en by sy wederkoms nie beskaamd voor Hom sal staan nie. Aangesien julle weet dat Hy regverdig is, weet julle ook dat elkeen wat regverdig lewe, ’n kind van God is. Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook” (1 Joh.2:28 – 3:1). Die Here Jesus het altyd oor sy wederkoms ge­praat as iets baie goeds wat met ons gaan gebeur. Al die el­len­de en geweld en swaarkry wat hierdie lewe so moeilik maak, sal verby wees. Jesus kom ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde instel waaroor Hy die Koning sal wees. Ons sal in heerlikheid by Hom en sy Vader woon. Kom ons hou ons verhouding met hom daagliks reg deur die krag en werking van die Heilige Gees in ons, en ons sien hartlik uit na sy wederkoms!
  
“Here, vandag wil ek uitsien na u wederkoms.”