Wo 23 Julie: Vra Hiervoor

Lees Handelinge 16: 22 – 34

“’Menere, wat moet ek doen om gered te word?’ Hulle antwoord hom: ‘Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word, jy en jou huisgesin’” (30,31)

In Christian Digest skryf iemand oor die lug­spoor­weg wat deur sy dorp loop. Een van die spoorweg­sta­sies is naby `n begraafplaas wat Cal­vary Cemetery genoem word. Vir baie jare het die trein nie self by daardie stasie gestop nie, omdat daar meer dooie mense as lewendige mense was. Iemand wat daar wou afklim, moes daarvoor vra. Sodra die trein die stasie. voor die begraafplaas­stasie, verlaat, maak die kaartjiesondersoeker die trein­wa se deur oop en roep: “Next station Cal­va­ry. Train stops on signal only. Anybody for Calvary?”

Dit is `n gelykenis van die lewenstrein, sê die skry­wer in Christian Digest. By al die lewen­stasies hou die trein self stil, skryf hy. “At Market Street, at School Street, at University Avenue, at Main street, at Vanity Fair, at Broadway, at Church Street, at Home Avenue. No special notice is needed, but to get off at Calvary – that means a choice and an expressed desire.” 

Ons verstaan wat die skrywer daarmee bedoel. Om by Jesus se kruis uit te kom, om gered te word, om Christen te word, moet `n definitiewe keuse uitgeoefen word. “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (Joh.1:12”).

 “Here, vandag kies ek U en neem ek U aan.”