Lees Psalm 142
“Ek
het alle moed verloor…Ek soek hulp…Ek roep na U om hulp, Here,
….luister tog na my hulpgeroep, want ek is magteloos” (4,5,6,7).
Die bekende prediker, Henry Moorehouse,
het hom eens in sy werk in beproewende omstandighede bevind. Bedruk
kom hy eendag met `n pakkie vir sy vrou by die huis. Sy verlamde
dogtertjie sit op haar stoeltjie op die stoep in die sonskyn. Hy gaan na
haar toe en soengroet haar. “Waar is Mamma?” vra hy. “Bo in die
slaapkamer,” antwoord sy. “Wel, ek het `n pakkie vir haar.” “Laat ek dit
vir Mamma neem,” bied sy opgewek aan. “Ag, Minnie, liefling, hoe kan
jy vir Mamma die pakkie gaan gee? Jy kan jouself nie eers dra nie,” sug
hy bedroef. Met `n glimlag op die gesig antwoord sy, “O, nee, Pappa, ek
kan. Pappa gee vir my die pakkie en dan dra Pappa my op na Mam- ma toe
en dan gee ek dit vir haar.” Hy gee haar die pakkie en tel haar
liefderik in sy arms op. Op daardie oomblik skyn die Heilige Gees die
Here se woord in sy hart in. Ek haal Chistian Herald aan wat die storie vertel: “This was just his position in the work in which he was engaged. He was carrying his burden, but was not God carrying him?”
Oorvloedig
nooi God ons in sy woord om ons las na Hom toe te bring. Ons sukkel om
dit met ons krag te dra, maar ons Hemelse Vader wil ons, met ons las, in
sy arms dra. “Soos
`n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié
wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat
ons stof is” (Ps.103:13,14).
“Here, vandag gee ek myself en my las oor in u hande.”