Di 8 Julie: Die Helper

Lees Psalm 142

“Ek het alle moed verloor…Ek soek hulp…Ek roep na U om hulp, Here, ….luister tog na my hulpgeroep, want ek is magteloos” (4,5,6,7).

Die bekende prediker, Henry Moorehouse, het hom eens in sy werk in beproewende om­stan­dighede bevind. Bedruk kom hy eendag met `n pakkie vir sy vrou by die huis. Sy ver­lamde dogtertjie sit op haar stoeltjie op die stoep in die sonskyn. Hy gaan na haar toe en soengroet haar. “Waar is Mamma?” vra hy. “Bo in die slaapkamer,” antwoord sy. “Wel, ek het `n pakkie vir haar.” “Laat ek dit vir Mamma neem,” bied sy opgewek aan. “Ag, Minnie, lief­ling, hoe kan jy vir Mamma die pakkie gaan gee? Jy kan jouself nie eers dra nie,” sug hy bedroef. Met `n glimlag op die gesig antwoord sy, “O, nee, Pappa, ek kan. Pappa gee vir my die pakkie en dan dra Pappa my op na Mam-­ ma toe en dan gee ek dit vir haar.” Hy gee haar die pakkie en tel haar liefderik in sy arms op. Op daardie oomblik skyn die Heilige Gees die Here se woord in sy hart in. Ek haal Chistian Herald aan wat die storie vertel: “This was just his position in the work in which he was engaged. He was carrying his burden, but was not God carrying him?” 

Oorvloedig nooi God ons in sy woord om ons las na Hom toe te bring. Ons sukkel om dit met ons krag te dra, maar ons Hemelse Vader wil ons, met ons las, in sy arms dra. “Soos `n vader hom ontferm oor sy kinders, so ontferm die Here Hom oor dié wat Hom dien. Hy weet waarvan ons gemaak is, Hy hou dit in gedagte dat ons stof is” (Ps.103:13,14).
                                 
         “Here, vandag gee ek myself en my las oor in u hande.”