Lees Romeine 5:1-6
“Ons moenie aan onsself dink nie: ons moet aan ons naaste dink…wat vir…hom goed is (2).
Die
dorpsraad van ’n plattelandse dorp, het ’n dik waterpyp oor ’n diep en
lang sloot gelê, om vir ‘n woonbuurt meer water te voorsien. Nie lank
nie of die woonbuurt se inwoners, en veral die kinders, het, tot
ergernis van die raadslede, oor die waterpyp kortpad dorp toe en skool
toe begin loop. Die lopery oor die pyp het nie alleen skade vir die pyp
nie, maar ook gevaar vir die gebruikers ingehou. ’n Raadsvergadering
is belê om ’n oplossing te kry. Een raadslid het voorgestel dat
doringdraad om die pyp gedraai word. “Lemmetjiesdraad,” voeg ’n ander
raadslid by. “Lang, skerp penne moet onder in die sloot ingeplant word.
Dit sal die mense afskrik,” was ’n ander voorstel. Na al die
afskrikplanne oorweeg is, sê ’n raadslid wat heeltyd stil na alles
geluister het: “Ons is verantwoordelik vir ons dorpsmense se
veiligheid, maar ook vir hulle gerief. Die misbruik van ons waterpyp het
getoon ’n behoefte aan so ’n kortpad bestaan. Ek stel voor ons
versterk die pyp en bou ’n brug oor die pyp, met reëlings aan
weerskante vir veiligheid.” Sy voorstel word eenparig aanvaar.
Ons
is dikwels in die posisie om vir iemand anders ’n hek op te rig, óf om
vir hom ’n brug te bou. Psalm 15 beskryf ’n man in ’n geëerde posisie:
“Wie mag op u heilge berg vertoef? Hy wat …doen wat reg is…nie
kwaadpraat nie, sy medemens nie kwaad aandoen nie.” God het ’n groot
behae in ’n mens wat aan ’n ander goed doen. Die hekoprigter is
gewoonlik iemand wat in eie hart ongelukkig en onbevredig is en dan sy
eie ongelukkigheid ten kwade laat oorvloei na ’n ander toe, en dan nog
ongelukki-ger word. Die brugbouer is iemand wat in eie hart gelukkig en
tevrede is en sy ruimhartigheid ten goede laat oorvloei na ’n ander
toe, en dan in sy eie hart nog gelukkiger word. “Moenie ’n weldaad weerhou…terwyl dit in jou mag is om dit te bewys nie” (Spr.3:27). “Solank ons die geleentheid het, moet ons dus aan almal goed doen…”(Gal.6:10).
“Here, vandag wil ek vir iemand ’n brug bou.”