Skrifdeel: Johannes 7: 37 – 39
“Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” (38)
’n Man het ’n pragtige plaas geërf. Daar was groot moontlikhede vir
ontwikkeling, maar daar was nie water nie. Die lieflike, vrugbare grond
moes onbewerk bly lê. Een aand het die man buite tussen die rante
gestaan en oor sy probleem gepeins. Dit was ‘n stil aand. Selfs die
wind was stil. Hy verbeel hom hy hoor water loop. Dis nie moontlik nie,
want daar is binne myle nie water nie. Tog hoor hy weer duidelik die
ruising van ’n waterstroom. Vir ’n paar aande daarna het hy op
dieselfde plek gaan staan en luister. As dit baie stil was, het hy die
water gehoor. Hy het die hulp van ’n geoloog ingeroep. Opmetings is
gemaak, grondformasies getoets en ’n boorgat gesink. ’n Geweldige
onderaardse fontein is blootgelê. Binne ’n kort tydjie is die
waardelose plaas omskep in ’n paradys.
Jesus beloof in Johannes 4:13,14 vir die Samaritaanse vrou ’n fontein in die hart: “Elkeen
wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit
dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein
wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”
Hierdie belofte van Jesus van ’n fontein in die hart is vervul met die
koms van die Heilige Gees op Pinksterdag. Hy woon in die hart van die
gelowige en gee in daardie hart, ’n volheid van geestelike lewe wat
uitvloei ook na ander toe.
Elke kind van die Here verlang na ’n oorvloedige lewe wat sy
Christenwees vir homself en vir ander ’n seën maak. Die onsigbare
fontein is gegee. Wie stil genoeg word om die ruisende stroom in God se
beloftes te hoor, vind die fontein. Die soekende, luisterende hart sal
die oorvloedige lewe vind.
“Here, vandag verlang ek na die volheid van die Heilige Gees.”