Lees Matteus 11: 25 – 30
“Kom
na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.
Neem my juk op julle…leer van My…Ek is sagmoedig en nederig van hart, en
julle sal rus kry vir julle gemoed. My juk is sag en my las is lig”
(28-30)
Die superintendente van `n sendingskool, vertel eerw. Mark Guy Pearse, het bogenoemde teks, en veral
die woorde: “My juk is sag”, vir `n klas Sondagskoolkinders gelees.
Sy draai na die klas toe en vra: “Wie kan my vertel wat `n juk is?”
Vinnig gaan `n paar hande op. Die een antwoord: “Dit is iets wat om die
nekke van osse gesit word.” Toe vra sy: “Wat beteken, God se juk, as die
Bybel sê: My juk is sag?” `n Rukkie is daar stilte. `n Vierjaaroud
dogtertjie se hand gaan op. “Ja?” vra die superintendente. Die
dogtertjie antwoord: “Dan sit God sy arm om ons nekke.” Eerw. Pearce merk op: “What could be more comforting than that?”
Die dogtertjie het `n goeie antwoord gegee. Jesus het gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en moet hulle nie verhinder nie, want die koninkryk van God is juis vir mense soos hulle. Dit verseker ek julle: Wie die koninkryk van God nie soos `n kindjie ontvang nie, sal daar nooit ingaan nie” (Luk.18:16,17). En nou is dit treffend dat die onmiddelike gebeurtenis na hierdie woorde van Jesus in verse 16 en 17, van vers 18 af en verder, die voorval van die ryk jongman is, wat van Jesus af weggedraai het omdat hy geoordeel het Jesus se eise vir sy koninkryk is te moeilik. Jesus vra nederige vertrouende harte vir sy inwoning. In só `n kinderlike hart wek die Heilige Gees geloof in die Here Jesus Christus en die vestiging van God se koninkryk.
"Here, vandag kom ek vertrouend na U toe"