Lees Handelinge 16: 22 – 34
“Teen middernag was Paulus en Silas besig om te bid en tot God te sing…(25)
‘n Luidrugtige, besope man, gevolg deur sy vrou en seuntjie, strompel
‘n stasie in Skotland binne en klim steierende op die trein, vertel die American Holiness Journal.
In die trein val die dronke op ‘n sitplek neer waar hy met sy
luidrugtige pratery en liedjies voortgaan. Sy vrou en seuntjie gaan
verleë op ‘n ander plek sit. Oorkant hom sit ‘n werker van ‘n
alkoholiese matigheidsvereniging. Hy weet uit ervaring dit sal geen
doel dien om nou met die man te praat nie. Hy is self ‘n toegewyde
Christen, wat in sy werk baie steun op Christus se verlossingskrag. Op
die ingewing van die oomblik, en tot verbasing van sommige ander
passasiers, begin hy een van die bekende, ou herlewingsliedere sing. Sy
ryk baritonstem dra bo die trein se gerammel uit. Dit word stil in die
treinwa. Selfs die ou dronkie raak stiller en nie lank nie of die ou sit
luid snorkend en slaap. Na ‘n ruk word hy meer sober wakker. Toe die
trein later wil stilhou en die matigheidsman gereedmaak om af te klim,
hou die man wat so dronk was sy hand uit, groet hom met die hand en
bedank hom vir die lied wat hy gesing het. Vyftien jaar later is hierdie
matigheidsman die spreker by ‘n matigheidskongres. ‘n Netjiesgeklede
man en sy vrou kom groet hom. Die man vra of die matigheidswerker hom
onthou. Hy skud sy kop. Die man sê: “Omtrent vyftien jaar gelede was ek
dronk op die trein. Jy het my aan die slaap gesing. Ek kon nie wegkom
van daardie liedere nie en na ‘n rukkie het ek die Here Jesus as my
Verlosser vertrou. My seuntjie, Joseph, wat by was, is nou in ‘n teologiese skool. Hy gaan predikant word.” In latere jare was hierdie Joseph, dan ook die dr. Joseph Parker, wat ‘n geseënde en invloedryke bediening in een van Londen se grootste kerke uitgeoefen het.
Die beriggie in die Journal sê nie watter lied die man gesing het nie. Dit kon dalk gewees het: “Deur te sien op die kruis is daar lewe en heil, is daar lewe vir jou en vir my.” Dit kon ook gewees het: “Daar’s
‘n dierbare kruis, waar my Heiland bewys, die liefde wat Hy vir my het;
Dáár is alles voldaan en die vyand verslaan, dáár word ek van sonde
gered.” Of anders was dit: “Net soos ek is, geen hulp naby; alleen u bloed gestort vir my; Getrek tot u deurboorde sy – O Lam van God, ek kom !”
Watter lied dit ookal was; vir die siek, magtelose, vernederde, skuldige man het die lied ‘n reddingsboodskap gebring.
“Here, vandag luister ek na u lied van redding.”