Lees Romeine 10: 8 – 21 Ou Vertaling
“Die geloof is dus uit die gehoor en die gehoor is deur die woord van God” (17).
Die bekende prediker en skrywer, C. H. Spurgeon, was eenkeer in Skotland. In Our Boys and Girls word
vertel hoe hy daar afgekom het op `n ou en verslete Bybel. Vol
bewondering hou hy die ou Bybel eerbiedig in sy hande. Terwyl hy dit
van kant tot kant bekyk, merk hy `n klein gaatjie in die voorste omslag.
Hy kyk goed. `n Wurmpie het die Bybel van die voorste omslag, dwarsdeur
die bybelblaaie, tot by die agterste omslag, deurgevreet. Spurgeon
roep uit: “From Genesis to Revelation it has gone clear through the Bibel. Lord, make me a book worm like that!”
Dit was `n krag in Spurgeon se prediking; sy wye kennis van die Woord van God. Dit is ook die beste manier van Bybelstudie: Lees die Bybel van kant tot kant deur. Ekself probeer elke dag 4 hoofstukke lees. Ek lees een hoofstuk uit die vier evangelies, een na die ander, dan `n hoofstuk uit `n sendbrief, dan een van die Psalms en profetiese skrifte, en dan `n geskiedenishoofstuk uit die eerste boeke van die Ou Testament. Die Heilige Gees gebruik die Woord van God om ons geloof te bou en ons God se stem te laat hoor. Uit die lees van die Skrifte word Jesus ook vir ons werklikheid. En dit is treffend hoe dikwels die tema uit die verskillende dele van die Bybel by mekaar aanpas. Dit is waarlik God se Woord aan ons. “Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (Heb.4:12).
“Here, vandag lees ek u Woord en ek luister.”