Lees Psalm 22
“My God, ek roep bedags en U antwoord nie…(3)
Die bekende prediker C. H. Spurgeon het ’n kommentaar, bestaande uit
drie volumes, elkeen sowat 450 bladsye dik, oor die Psalms geskryf. Ek
besit gelukkig hierdie drie boeke. In 1975 het ek die hele stel van drie
vir R38,85 gekoop. Een aand, voor `n nagmaal, het ek behoefte gehad
om my hart vir die herdenking van die Here Jesus se kruisiging voor te
berei. Ek het Psalm 22 opgesoek en Spurgeon se boek by sy kommentaar
oor Psalm 22 oopgemaak. ’n Groot en verrykende onthulling oor Jesus se
kruisdood het in my hart gekom. En tog, selfs nou, voel ek ek het nog
maar vlak in Psalm 22 ingegaan.
In die evangelies het ons die beskrywing van Jesus se kruisdood stap
vir stap. In Psalm 22 het ons dieselfde beskrywing asof Dawid self by
Golgota gestaan het. Die verskil tussen die evangelies se beskrywings en
Psalm 22 is, dat die evangelies aangrypend die gebeurtenis se uiterlike
ontvouing beskryf, en Psalm 22 bring die lydende Messias se gevoelens
en gedagtes gedurende daardie kruisigingsure na ons harte toe. Die Gees
van die Messias beleef in Dawid se menslike hart die kruisiging soos
Jesus dit beleef het: sy eensaamheid, verskrikking en pyn.
Ek volg nou Spurgeon se spore (kortpad) deur Psalm 22. “Vir die koorleier (Chief Musician). So ’n verhewe lied kan nie deur ’n mindere hanteer word nie. “Op die wysie van die wildsbok…” Jesus is soos ’n wildsbok gejag (v.1). Jesus se gevoel van diepe verlatenheid:“My God, my God, waarom het U my verlaat en bly ver as ek om hulp roep?”(v.2). Sy hewige onrus: “My God ek roep bedags en U antwoord nie, ook snags, maar ek kry geen rus nie (v.3). Sy verwarring: “Op
U het ons voorvaders vertrou…U het hulle gered…hulle het na U om hulp
geroep…op U het hulle vertrou en hulle is nie beskaam nie (4-6)”.
Hoekom kry Hy nie antwoord nie? Hieruit kry ons bemoediging, want ons
bid ook en dan kry óns nie dadelik die verhoring van óns gebed nie. Sy
vernedering: “Maar
ek is ’n wurm…Almal wat my sien, spot my, hulle steek vir my tong uit
en knik met voldoening die kop en sê: ‘Laat dit aan die Here oor! Laat
Hy hom red …as Hy dan so baie van hom hou (7-9)’” Sy herinneringe: “Van my geboorte af is ek onder u sorg…is U my God (v10,11). Sy angs: “…die nood is naby… Sy vernietiging: “…hulle
het my hande en voete deurgrawe (Ou.Vert.) …hulle verdeel my klere
onder mekaar en trek lootjies oor my mantel…help my tog gou! Red
my…kosbare lewe…Red my…!(v17-22) Sy oorwinning: “U het my gebed verhoor! Ek sal U…in die volle vergadering prys… (23-27)”. Sy versoening: “Mense
oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer…Alle
volke sal Hom as koning erken… Hy heers oor die volke…(28-30)”. Sy verkondiging: “Die
nageslag sal Hom dien en hulle sal van die Here vertel…aan die volk wat
nog gebore moet word van hierdie verlossingsdaad getuig: die Here het
dit gedoen (31-32)”.
“Here, vandag dank en aanbid ek U vir u groot soenoffer.”