Lees Psalm 121
“Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou” (4,5).
In `n afgeleë huis het `n ma en haar vierjaaroue dogtertjie reggemaak
om te gaan slaap. Die kind was bang vir die donker in die groot huis.
Weens hul eensaamheid was die ma self huiwerig en bang. Die ma maak
uiteindelik die lig dood. Buite waai die wind en dit is donker. Albei
lê bang in die bed. Deur die oop venster sien die dogtertjie die vol
maan skyn. “Is die maan God se lig?” vra die kind. “Ja,” antwoord die
ma, “God se lig skyn altyd.” Die kind se volgende vraag: “Sal God ook
netnou sy lig doodmaak en gaan slaap?” Die ma antwoord: “Nee, my
kindjie, God slaap nooit nie.” Die dogtertjie antwoord met kinderlike
vertroue: “Mamma, as God wakker is, is ek nie bang nie.” Sy sê dit met
so `n oorgawe en vertroue dat die ma ook sommer dadelik gerus voel. God
waak en Hy sal hulle bewaar.
Dit is `n ou en bekende storie, maar die waarheid daarin is so
kosbaar, dat ons dit weer kan oordink. As ons aan God behoort is ons vir
Hom kosbaar en Hy bewaar ons. Sy waaksaamheid verslap nooit nie.
Gedurig kan ons in Hom vertrou en na Hom toe vlug as ons bedreig voel.
Die skrywer van die verhaaltjie wat ek nou weer gelees het, sê in eie
woorde: “How often we allow fear –
of darkness, of failure, of suffering, of death – to rob us of our
sleep and of our joy in life? God’s ligth never goes out; He is ever
awake to our needs.”
“Here, vandag weet ek U leef en U waak oor my.”