Do 17 Julie: GOD slaap Nie

Lees Psalm 121

“Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou” (4,5).
      
In `n afgeleë huis het `n ma en haar vier­jaar­oue dogtertjie reggemaak om te gaan slaap. Die kind was bang vir die donker in die groot huis. Weens hul eensaamheid was die ma self huiwerig en bang. Die ma maak uit­ein­de­lik die lig dood. Buite waai die wind en dit is donker. Albei lê bang in die bed. Deur die oop venster sien die dogtertjie die vol maan skyn. “Is die maan God se lig?” vra die kind. “Ja,” ant­woord die ma, “God se lig skyn altyd.” Die kind se volgende vraag: “Sal God ook netnou sy lig doodmaak en gaan slaap?” Die ma ant­woord: “Nee, my kindjie, God slaap nooit nie.” Die dogtertjie antwoord met kinderlike ver­troue: “Mamma, as God wakker is, is ek nie bang nie.” Sy sê dit met so `n oorgawe en ver­troue dat die ma ook sommer dadelik gerus voel. God waak en Hy sal hulle bewaar.
  
Dit is `n ou en bekende storie, maar die waar­heid daarin is so kosbaar, dat ons dit weer kan oordink. As ons aan God behoort is ons vir Hom kosbaar en Hy bewaar ons. Sy waak­saamheid verslap nooit nie. Gedurig kan ons in Hom vertrou en na Hom toe vlug as ons bedreig voel. Die skrywer van die verhaaltjie wat ek nou weer gelees het, sê in eie woorde: “How often we allow fear – of darkness, of failure, of suffering, of death – to rob us of our sleep and of our joy in life? God’s ligth never goes out; He is ever awake to our needs.”
  
“Here, vandag weet ek U leef en U waak oor my.”