Lees: Jesaja 30: 19 – 26
“Wanneer jy die regte koers verlaat, sal jy agter jou `n stem hoor sê: ‘Hier is die pad, loop hierlangs.’” (21)
Die Gospel Herald vertel
van ’n buitengewoon aantreklike en bekwame jongmeisie, inwoner van een
van die Sendinginstituut se weeshuise, in Indië. Sy het op ’n waardige
jongman verlief geraak en hulle sou, met die Instituut se goedkeuring,
trou. Kort voor die huwelik begin sere aan haar hande verskyn. Dit is
vasgestel sy is melaats. Die troue is afgestel en sy is na ’n melaatse
gestig oorgeplaas. Mooi aangetrek gaan sy die dag na die melaatse gestig
toe. Saam met haar broer stap sy die verskriklike plek in. Al die
vroue om haar is vuil en verwaarloos, hulle gesigte droewig en vol
wanhoop. Sy gryp haar broer vas en gaan droewig aan die huil. “Moet ek
soos hulle word?” snik sy. So wanhopig was sy dat sy dopgehou moes word
dat sy nie dalk in die diep waterput sou spring nie. Die sendelinge het
saam met haar gevoel, diep met haar gesimpatiseer. Een van hulle het
vir haar ge-sê: “Wil jy nie vir die arme vroue ’n hulp wees nie.?” ’n
Straaltjie lig het vir haar deurgebreek. Sy het ’n skool begin en die
vroue en jongmeisies in die gestig leer lees en skryf. Die sendelinge
het vir haar ’n vouorrel gebring. Sy kon dit bespeel en die vroue leer
sing. Stadigaan het ’n transformasie begin plaasvind. Die huise is skoon
en netjies gemaak. Die vroue het hulself en hul klere begin was en
hulle hare gekam. ’n Atmosfeer van hoop en vreugde het begin posvat. Dit
het ’n plek van seën geword. Na sy ’n lang ruk daar was, het sy getuig
dat sy met haar aankoms in die gestig in God begin twyfel het. Dan gaan
sy voort om te sê: “Now
I know God had a work for me to do, and if I had not become a leper, I
never would have discovered my work. Every day I live, I thank Him for
having sent me here, and had given me this work to do.”
Die
pad waarlangs die Here ons soms neem om vir Hom nuttig te wees, kan ’n
steil en moeilike pad wees. So het Paulus en Silas dit ervaar toe hulle
die evangelie in Filippi se tronk moes indra. Hulle is aangekla, geslaan
en met hulle voete in ’n blok opgesluit. Baie groot seën en redding het
hieruit voortgevloei (Hand.16). Ons is veilig as ons ons aan God se wil
onderwerp. Hy weet hoe om ons langs die regte pad te lei om te kom waar
Hy ons wil hê en gebruik. In sy swaarkry, was dit gedurig Dawid se
gerustellende wete: “Maar ek vertrou op U, want ek weet U is my God. U het beheer oor my omstandighede” (Ps.31:15,16)
“Here, vandag luister ek om u stem te hoor.”