Lees Markus 15: 21 – 40
“Dit was nege-uur die môre toe hulle Hom gekruisig
het…Teen twaalfuur…het daar duisternis oor die hele land gekom en dit
het tot drie-uur geduur. Om drie-uur het Jesus hard uitgeroep: ‘Eloï,
Eloï, lemá sabagtani?’ Dit beteken : My God, my God, waarom het U My
verlaat? Daarna het Jesus hard uitgeroep en die laaste asem uitgeblaas”
(25, 33, 37).
In Happy Hour word
vertel van die jong Amerikaanse Christenvrou, wat in Indië, elke week
`n groep hoëklas Hindoemeisies besoek het. Dan het sy vir hulle,
hoofstuk vir hoofstuk, Jesus se verhaal uit The Life Of Christ
voorgelees. Terwyl sy lees het hulle oor hul weeframe met hulle
weefwerk voortgegaan. Op `n dag kom sy by die hoofstuk wat Jesus se
laaste ses ure, die kruisigingsgebeure, verhaal. Terwyl sy so lees hoor
sy `n gesnik. Sy dink dit is in die vertrek waar hulle sit. Sy hou op
lees en kyk rond. Sy sien niks vreemds nie en dink dit kom deur die
bamboesafskorting van die agterplaas af. Sy lees verder. Weer die
snikke, toe sien sy dit is `n jongmeisie wat half met haar rug na haar
toe sit wat so snik. Die vrou gaan kniel by die meisie: “Wat makeer?
Voel jy siek? Het jy pyn? Kan ek jou help?” Ek haal aan: “Through
her raining tears the Hindu heathen girl answered, with sobs, ‘Oh, I
cannot bear it – not another word! He suffered so – and you said it was
for me! Oh, I cannot bear it – I love Him so!’” Die Amerikaanse vrou sê, toe sy dit eendag vir ander vertel: “Ek het nooit voorheen besef ek het Jesus so min lief nie – ek het nog nooit `n traan oor sy lyding gestort nie.” Die storie sluit af in Happy Hour met hierdie enkele sin, `n deursoekende vraag: “Have you ever thanked Jesus for dying for you?”
Dit
is goed om Jesus se kruisigingsverhaal meer as eenkeer te lees, dit
agter mekaar uit al vier evangelies te lees, dit in die gedagte te volg
en te peins en te weet: “Vir my het Hy so gely en gesterf.” Dit is die
groot boodskap dwarsdeur die Bybel: “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe…(Ef.1:7).” “…omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het…(Opb.5:9).
“Here, vandag dink ek aan u groot offer vir my.”